EMANSIPASIE

EMANSIPASIE. Die woord “emansipasie” beteken eenvoudig “bevryding”. Die begrip self word veral gebruik in die politiek-ekonomiese filosofie* en teologie* van die 20ste eeu. Die idee is in ’n groot mate geïnspireer deur Karl Marx* met sy analise van die struktuur van die kapitalistiese (Kyk by: Vryemarkekonomie) maat­skappy waarin die voortgesette onderdruk­king van die proletariaat (werkersklas) ’n noodsaaklike voorwaarde is vir die oorlewing van die ka­pi­talistiese heersersklas. Volgens Marx weerhou die verskynsel van ideologie* die on­der­drukte klas daarvan om insig in hulle uitsiglose situasie te verwerf en iets daaraan te begin doen.

Volgens Jürgen Habermas, een van die bekendste hedendaagse neo-Marxistiese* filosowe, is ideologie sistematies versteurde kommunikasie. Dit beteken dat ideologie daardie toestand is waarin sowel onderdruktes as onderdrukkers vals voorstellings van die werklikheid aanvaar vanweë distorsies of verwringings in die sosiale sisteem waarin ons lewe. Byvoorbeeld: Mans sowel as die vroue wat deur die mans onderdruk word, aanvaar dikwels albei dat ’n sosiale reëling waarin oor vroue as minderwaardig gedink word, korrek en wenslik is. Dit gebeur omdat die sosiale sisteem waarin hulle hulleself bevind, só funksioneer dat dit ineen sal stort as die ongelyke verhou­ding tussen mans en vroue opgeskort sou word. Mans het dus ’n gevestigde belang in die voortsetting van die sisteem, en vroue in die sisteem glo eweneens dat daar vir hulle geen heil in ’n alternatief is nie.

Is bevryding of “emansipasie” uit hierdie ideologiese verblinding moontlik? Volgens Marx is dit slegs moontlik as die bestaande kapitalistiese sisteem deur ’n gewelddadige revolusie omver gewerp word en opgevolg word deur die “diktatuur van die proletariaat”. Denkers soos Habermas en Charles Taylor, daarenteen, glo dat ’n effektiewe sosiale analise en teorie emansipasie uit die sisteem kan bewerkstellig. Habermas en Karl-Otto Apel sien in hierdie verband veral ’n analogie tussen ’n effektiewe sosiale teorie en die psigo-analitiese metode van Sigmund Freud*.

Die “emansipasie” of bevryding van bv vroue uit hulle onderhorige posisie van vroeër jare, het in die afgelope eeu in baie lande plaasgevind sonder “gewelddadige revolusie”, maar tog met groot stryd en kampanjes. Die hedendaagse opvatting in veral Westerse lande is dat vroue en mans in alle opsigte mekaar se gelykes is. In Suid-Afrika (al skaar hy hom nie meer by die “Weste” nie) is amper die helfte van die Kabinetslede bv vroue en is die leiers van groot politieke partye vroue. In die kerk* het vroue “geëmansipeer” om in baie hoofstroomkerke in al die ampte te dien en daarin leiding te neem. ’n Groot uitsondering is steeds die Katolieke Kerk* waar vroue nog nie priesters, biskoppe – of die pous! – mag word nie. In gereformeerde* kring kan vroue nie in die Gereformeerde Kerke* in SA (die “Doppers”*) ouderlinge* of predikante * word nie. Selfs in sommige Islamitiese lande is daar aanduidings dat vroue hulle nie meer so gebonde ag aan die strawwe beperkinge wat Islam* op hulle lê nie. (Kyk ook by: Feminisme.)

Vir verdere lees: AA van Niekerk 1992. Rasionaliteit en relativisme. Pretoria: RGN.

 

Sidebar