EMPIRISME

EMPIRISME was oorspronklik ’n stroming van die kenteorie* wat gestel het dat ons al ons kennis deur ons sintuie verwerf. Reeds deur Thomas van Aquino* (Nihil est in intellectu, nisi prius fuerit in sensu: Niks is in die verstand as dit nie eers in die sintuie was nie) het die empirisme ’n invloed op die teologie* gehad. Sedert die logiese positiwisme* is die empirisme ook invloed­ryk in die betekenisleer (feitelike uitsprake is slegs betekenisvol wanneer hulle toutologies of empiries verifieerbaar is) en in die ontologie* (bestaan is en moet vir ’n guns­tig geplaaste waarnemer waarneembaar wees).

Christelike teoloë het op verskillende maniere gereageer, bv 1. deur te sê dat geloofsuitsprake eskatologies* verifieerbaar is (in die toekoms, of in ’n lewe ná die dood – J Hick); 2. deur te wys op God se empiries-waarneembare werke in die na­tuur en geskiedenis, en 3. deur te ontken dat geloofsuitsprake feitelike uitsprake is, maar hulle te reduseer tot morele uitsprake of gevoelsuitdrukkings (R Braithwaite, P van Buren). Intussen is dit duidelik dat die artikulasie van geloof in ’n transendente God nie saamgaan met empirisme in die betekenisleer en ontologie nie. In ’n dergelike artikulasie probeer mense immers betekenisvolle uitsprake maak oor ’n entiteit wat werklik bestaan, maar nie direk empiries waarneembaar is nie.

Sidebar