ENGEL

ENGEL is ’n hemelse wese wat God dien. Engele is deur God geskep en sommige van hulle het teen Hom in opstand gekom. Die goeie engele vorm deel van God se hemelse vergadering (Ps 89:6-9) en ook van God se hemelse weermag (Deut 33:2) wat soms deur Hom gestuur word om aan die kant van sy volk te veg (Jos 5:13-15). God gebruik ook die engele as boodskappers, bv om geboortes aan te kondig (Gen 18:10), mense te bemoedig (Gen 31:12-13) of om aan hulle opdragte te gee (Rig 6). In die Nuwe Testament* speel engele ’n rol by belangrike momente in Jesus* se bedie­ning, byvoorbeeld by sy geboorte (Luk 1:26-37; 2:9), versoeking* (Mark 1:13), op­stan­ding* (Mark 16:4-7) en ook by sy weder­koms* (Mark 13:27). (Kyk ook: Gerubs, en: Seraf.)

In die Ou Testament* word soms verwys na die Engel van die Here. Soms lyk dit of die Engel van die Here ’n spesiale engel van die Here* is en soms asof dit die Here self is (bv Gen 22:10-12). Dit is moeilik om te verklaar, maar moontlik is dit ’n manier om te sê dat die Here self daar is as sy Engel daar is, maar dat mense nie direk kontak met Hom kan hê nie. (Kyk ook: Engele vandag.)

Sidebar