ENGELBRECHT, BAREND JACOBUS (BEN)

(1923–2013), behaal al sy grade met lof: aan die Universiteit van Pretoria (UP) BA (1943) en BD (1946) en aan die Rijksuniversi­teit van Groningen die DTheol (1949). In 1950 word hy as predikant van die Neder­duitsch Hervormde Kerk* in die gemeente Florida georden. Van 1952 tot 1988 is hy professor en hoof van die departement dogmatiek* en Christelike etiek* (Afdeling A) aan UP en word die hoogleraar wat die langste diens in hierdie fakulteit gelewer het. Hy het in etlike posisies gedien, waarvan dekaan, raadslid van UP, volle lid van die SA Akademie en lid van die Algemene Kommissie van sy kerk, die belangrikste was.

Sy proefskrif, Die tydstruktuur in die gedagtekompleks Hegel-Kierkegaard-Barth, het duidelike blyke gegee van sy vermoë om ingewikkelde sisteme te integreer. Hierna volg etlike publikasies. Hy was ook jare lank een van die bekendste en gewildste deelnemers aan die radioprogram, “Wat sê die Bybel?”

Engelbrecht was ’n selfstandige verwoorder van die Bybels-Reformatoriese teologie* en het die Suid-Afrikaanse teologie op ’n unieke wyse verryk. Hy het ook internasionale erkenning ontvang vir sy bydraes oor hengelvisse en kunsaashengel.

 

Sidebar