ENGELBRECHT, BENJAMIN (BEN)

ENGELBRECHT, BENJAMIN (BEN) (1928–) het op vyftienjarige ouderdom gematrikuleer, aan die Universiteit van Pretoria studeer en sy doktorsgraad in 1954 aan die Universiteit van Utrecht behaal. Hy studeer verder onder die Nederlandse teoloog AA van Ruler* en verwerf ’n tweede doktorsgraad in 1963 aan die Universiteit van Suid-Afrika. Van 1954 tot 1965 was hy predikant van die NG Kerk* in Newcastle en Johannesburg-Oos. Engelbrecht het geglo dat die staat* hom nie met die hulp van die kerk* op God kan beroep om apartheid* op ’n veelrassige en veelvolkige eenheidsgemeenskap in Suid-Afrika af te dwing nie. Hy was ’n stigterslid van die Christelike Instituut* (CI) en het in 1965 die studiesekretaris van die CI geword asook redakteur van die CI-tydskrif, Pro Veritate. Ná die radikalisering van die CI onder druk van buitelandse donateurs en onder leiding van Beyers Naudé*, het Engelbrecht in 1969 alle formele bande met die CI verbreek. ’n Jarelange vriendskap met Naudé het ook geëindig as gevolg van die meer militante rigting van die CI en Naudé se werkstyl. Ná 1970 het hy Godsdienswetenskap aan die Universiteit van die Witwatersrand ge­doseer. In 1971 het hy by die Presbite­riaanse Kerk* aangesluit, maar in 1988 is sy lidmaatskap van die NG Kerk herstel.

Vir verdere lees: Ben Engelbrecht 1982. Ter wille van hierdie wêreld. Politieke en Christelike heilsbelewing in Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg.

Sidebar