ENGELBRECHT, STEPHANUS PETRUS

ENGELBRECHT, STEPHANUS PETRUS (1891–1977), is in 1921 georden as predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk* en word in dieselfde jaar as hoogleraar in kerkgeskiedenis* aan die teologiese fakulteit van die Universiteit van Pretoria aangestel. Hier tree hy in 1956 af as dekaan en word toe die eerste voltydse argivaris van sy kerk. Hy het hierdie pos tot 1967 beklee en het op 20 Augustus 1977 in Pretoria gesterf.

Sy grootste bydrae lê op die gebied van kerkgeskiedskrywing. Hy word geëer as die eerste akademikus wat ’n gesaghebbende werk oor die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis die lig laat sien het. Met sy fenomenale kennis van bykans elke ou Transvaalse fa­milie, sy intensiewe navorsing oor sowat ’n honderdtal persone en gebeure, tesame met sy ongekende versameldrif, kon hy ’n persoonlike argief nalaat wat deur Dag­breek en Sondagnuus in 1957 as die waar­de­volste versameling Africana bestempel is. Dit vorm ook die hart van die NH Kerk se argief in die Dirk van der Hoffgebou in Pretoria.

Alhoewel hy dikwels in kontroverse oor bepaalde omstrede sienings van die Afri­kaanse kerkgeskiedenis betrokke was, sal hy nietemin as knap professor, genealoog, argivaris, lid van die argiefkommissie van die staat, lid van talle verenigings, plaaslik en in Nederland, onthou word.

Sidebar