ENGELE VANDAG

ENGELE VANDAG. Tree engele vandag nog, soos in die Bybelse* tye, as boodskappers van God en beskermers van mense op? Sannie Wiese het ’n aantal gelowiges se weergawe van ontmoetings met engele gedokumenteer en daarna ontleed om vas te stel wat die gemeenskaplike elemente is. Dit wil hiervolgens voorkom asof engele soms as heerlike wesens in ’n helder lig aan mense verskyn. Die postuur en geslag (meestal as mans, maar soms ook in die vorm van vroulike verpleegsters) was dikwels sigbaar, maar nie hulle gesigte nie. Emosionele reaksies soos ’n aanvanklike vrees wat later in ’n aanvoelbare vrede en liefde verander, kom ook algemeen voor. Soms word die krag en mag van die engele ook ondervind. In ’n paar gevalle het meer as een persoon dieselfde ontmoeting in lewensgevaarlike situasies beleef. Daar is ook getuienisse van engele wat as gewone mense aan gelowiges verskyn het. In sulke gevalle het die gelowiges hulle gewoonlik later, vanweë die buitengewone omstandig­hede, as engele herken.

Dit kom voor asof persone se geloof* ’n belangrike element is in die vertolking van die gebeure tydens ontmoetings met enge­le. Hoewel hierdie aspek dit moeilik maak om die egtheid van die ontmoetings te be­oordeel, kan die positiewe en dikwels blywende effek daarvan wel bevestig en waar­deer word. (Kyk ook: Engel.)

Vir verdere lees: Sannie Wiese 2014. Engele by ons. Kaapstad: Lux Verbi. San­nie Wiese en Abraham le Roux 1997. Mense en engele as geestelike wesens. Kaapstad: Uitgegee deur die skrywers.

Sidebar