ENGELS, FRIEDRICH

ENGELS, FRIEDRICH (1820–1895) het reeds voor sy twintigste verjaardag alle bande met die vroom godsdiens van sy ouers verbreek. Hy raak betrokke by die lot van fabriekswerkers in Duitsland en Enge­land, neem kennis van allerlei sosialistiese bewegings (Kyk by: Sosialisme), en skryf reeds in 1844 indringend oor sosiaal-ekonomiese sake met die oortuiging dat privaatbesit (kapitaal en grond) aanspreeklik is vir alle sosiale onreg. Karl Marx* was diep beïndruk daarmee en so ontstaan ’n lewenslange vriendskap en samewerking, waarvan die “Kommunistiese Manifes” ’n voorbeeld is. Ná Marx se dood sou Engels ook deel 2 en 3 van Das Kapital voltooi. Hy raak aktief betrokke by arbeids­organisasies, opstande en die publikasie van strydskrifte.

As vertrekpunt dien by hom die filosofie van dialektiese materialisme waarby onder andere die materialistiese ateïsme* van Feuerbach* en die evolusie-denke van Darwin* ’n rol speel. Alle geestelike, redelike en kulturele uitings berus ten diepste op ’n materiële onderbou, en daarom kan sosiale onreg slegs reggestel word as hierdie onderbou verander is. Daarvoor is nodig die eliminering van alle klasse, klasseverskille en privaatbesit, en die daarstel van ’n harmonieuse godsdienslose en klaslose (kommunistiese) samelewing. (Kyk by: Kommunisme en Neo-Marxisme in Christelike Perspektief.)

 

Sidebar