EPILEPSIE

EPILEPSIE, onder verskillende name ge­noem, is van die vroegste geskiedenis aan die mens bekend. Sommige meen dat die Bybel* die voorkoms van epilepsie beskryf (Mark 9:14-29). Hippokrates beskryf dit eg­ter alreeds vroeër as ’n siekte en nie as duiwelbesetenheid nie. Die siekte affekteer mense van elke ouderdom, geslag, ras en sosio-ekonomiese agtergrond. Die wêreldwye-voorkoms van epilepsie is tans sowat 5-10 uit elke 1 000 mense van die bevolking. Epilepsie kom voor as gevolg van abnormale spontane elektriese ontlading in die brein. Die siekte se intensiteit wissel van momentele uitsnydings en gedeeltelike spiersametrekking tot bewussyn-onderdrukking en algehele herhalende spiersametrekking van die liggaam waartydens die persoon hom-/haarself kan beseer. As gevolg van die kompleksiteit en verskeidenheid van faktore, is ’n breë behande­lingsperspektief nodig. Epilepsie beïnvloed elke lewensarea van funksionering van die pasiënt soos byvoorbeeld onderwys, in­diensneming, gesinsverhoudings en sosiale aktiwiteite. Belangrike etiese besluite moet geneem word, soos bv of die pasiënt met epilepsie ’n bestuurderslisensie mag ontvang. Diskriminasie en stigmatise­ring word ook geassosieer met die siekte. Die gevolglike vestiging van ’n swak selfbeeld mag aanleiding gee tot die voorkoms van depressie* as die mees algemeen voor­komende psigiatriese toestand by hierdie pasiënte. Pastoraal-terapeutiese leiding vir en betrokkenheid by die persoon met en geaffekteer deur epilepsie, is belangrik.

Vir verdere lees: RG Beran 2002. Epilepsy: A Question of Ethics. The International Centre for Health, Law & Ethics Library. Tel Aviv: Yozmot Pub Ltd. S Shorvon, E Perucca, D Fish, E Dodson 20042. The Treatment of Epilepsy. Massaschusettes: Blackwell Scien­ce. M Tripathi en S Jain, 2003. “Ge­netics in Epilepsy: Transcultural Perspectives” in Epilepsia 44: (Suppl 5):12-16.

 

Sidebar