EPISKOPAAT

EPISKOPAAT. Die episkopaat is die algemene beskrywing van die werk en sending van ’n biskop*. Deur die Kato­lieke*, Grieks-Ortodokse* en Anglikaanse* kerke word geglo dat die biskoppe hulle sending in persona Christi Capitis (met die gesag van Christus) uitoefen. Dit beteken dat hulle gestuurdes van Christus* met volle mandaat is, afgesonder vir die evan­gelie* van God (vgl Rom 1:1). Elke bis­kop moet sorg dat sy/haar verantwoordelikhede in die plaaslike kerk en sy/haar besluite in dié verband, nie die eenheid met die ander biskoppe in gevaar stel nie. Daar word geglo dat die eenheid van die biskoppe die eenheid van die gelowiges versterk en die gemeenskap van die Drie-eenheid* openbaar (vgl Joh 21:22; Hand 15:4-30). In die Katolieke Kerk word geleer dat hierdie eenheid onder die biskoppe net volledig is as hulle in een kollege met die pous* verenig is. Met “persoonlike gesag” word bedoel dat die biskop persoonlik die sigbare teken van die eenheid van die plaaslike kerk is. Die biskoppe moet dus met wyse besluite die liggaam van Christus opbou, en hulle moet sorg dat die boodskap van Christus volledig verkondig word. Hulle sien om na die welsyn van die armes, sendelinge* en dié wat ter wille van die geloof* vervolg is.

Sidebar