ERASMUS, DESIDERIUS

ERASMUS, DESIDERIUS (1466–1536), was die beroemdste Europese geleerde van die Renaissance*-tydperk. Hy was ’n teoloog, voorste kenner van die Klassieke en ’n grondlegger van die moderne Bybel*weten­skappe, veral as gevolg van die feit dat hy die eerste volledige uitgawe van die Griekse* Nuwe Testament* gepubliseer het. Hy pres­teer as jongeling buitengewoon goed in Latyn, studeer aan die Sorbonne-universiteit in Parys, reis heelwat deur Europa, kom vir ’n tyd in Engeland tereg, verwerf ’n doktorsgraad in Turyn, en bring sy laaste jare in Brabant en in Basel deur, waar hy oorlede en begrawe is.

Sy beroemdste boek is Tot lof van dwaasheid, waarin hy genadeloos spot met wangebruike in die Katolieke Kerk* van sy tyd. Hierdie boek word een van die eerste topverkopers in die tyd van die nuut uitgevinde boekdrukkuns. Hy skryf ook ’n bekende boek met Spreekwoorde, die Hand­boek van ’n Chistelike Ridder en ’n boek oor die vrye wil, waarin hy sy verskille met Martin Luther* sistematies bespreek. Hy is skepties oor al die sekerhede van die teologie* van sy tyd. Hy verkondig ’n lewe van toegewyde dienslewering aan die naaste, op voetspoor van Jesus* van Nasaret. Ten spyte van al sy kritiek op dié kerk, het hy nooit die Katolieke Kerk verlaat nie.

Vir verdere lees: Desiderius Erasmus 2002. Tot lof van dwaasheid, uit die Latyn vertaal en ingelei deur JL de Villiers. Pretoria: Protea-Boekhuis. AA van Niekerk 2005. Geloof sonder sekerhede. Wellington: Lux Verbi.BM, hoofstuk 4.

Sidebar