ERASMUS, LOURENS MARTHINUS

ERASMUS, LOURENS MARTHINUS (1962–) het sy teologiese studie, en ’n doktorsgraad, aan die teologiese fakulteit van die Universiteit van die Vrystaat voltooi en het in 1989 die predikant van die NG Gemeente Welkom-Wespark geword. Eras­mus het vinnig opgang in die Vrystaatse kerk gemaak en was die jongste en ook die eerste afgestudeerde van die Vrystaatse teologiese fakulteit wat voorsitter (moderator*) van die sinode* geword het. In die tyd dat Erasmus voorsitter van die Interim­komitee (Moderamen) was, het hy hom onder meer in die openbare pers negatief oor die rigting van die breë NG Kerk* uitgelaat, wat hom baie kritiek op die hals gehaal het. In April 2006 het hy as pre­dikant van die gemeente Welkom-Wes be­dank, maar gesê dat hy ’n lidmaat van die NG Kerk bly. Erasmus het met sy bedanking verklaar dat daar syns insiens oor talle geloofsake ’n Babelse verwarring in die NG Kerk heers. Sake waaroor daar volgens hom teologiese uitklaring in die NG Kerk ontbreek, is onder meer die aard en vertolking van die gesag van die Skrif* en die gere­formeerde* belydenis; verwarrende standpunte oor die sakrament*leer; ondui­delik­heid oor kerk*opvatting en erediens*begrip; die sentralisering van kerklike gesag in sinodes, en die teologiese onduidelikheid oor die verhouding tussen evangelie* en moderne kultuur* asook sekularisasie* (Kerk­bode, 14 April 2006).

Sidebar