EREDIENS

EREDIENS is die tradisionele benaming vir die gemeente* se samekoms. In die naam ere-diens of diens van eer, tree veral die aspek van die aanbidding* en lofpry­sing* van God sterk op die voorgrond, asook die viering van God se teenwoor­digheid (Kyk by: Liturgie). In die Ou Testament* was veral drie elemente prominent in die volk van God se samekoms: erediens, heiliging* en feestelike gemeenskap. In die Nuwe-Testamentiese* erediens is basies dieselfde elemente teenwoordig, maar God se teenwoordigheid word beleef in Christus* deur sy Heilige Gees*, versterk deur die viering van en die vervulling* van God se beloftes* (1 Kor 14:25). Hand 2:42 verwys na die gebede* waarin die aspek van die lofverheffing of erediens uitgedruk is, en die breek van die brood of viering van die nagmaal* wat die gesigspunt open van die persoonlike heiliging en die gemeen­skap*. Wat bykom, is die leer van die apos­tells*, en dit maak ruimte vir die prediking. Uit tekste soos Hand 20:7 en 1 Kor 16:2 is dit duidelik dat die eerste Christene* hoofsaaklik op die eerste dag van die week, Sondag*, bymekaar gekom het. In die gereformeerde* denke is dit egter nie net die gemeente se samekoms wat so genoem word nie, maar ook die gelowige se hele Christelike lewe word sy/haar erediens genoem (Rom 12:1). Verskillende tradisies in die Christelike geloof rig die erediens volgens spesifieke teologiese grondmotiewe in. In die erediens is die verskille (en ooreenkomste) tussen die verskeidenheid tradisies in die Christelike geloof die sigbaarste en tasbaarste.

Vir verdere lees: AC Barnard 1982. Die erediens. Pretoria: NG Kerkboekhandel. Julian Muller 1990. Die erediens as fees. Pretoria: NG Kerkboekhandel. Ferdi Clasen ea 2010. Handleiding vir die erediens.Wellington: Bybel-Media. Cas Wepener 2014. Van voor die wieg tot na die graf. Rituele roetemerkers vir die drumpels van die lewe. Wellington: Bybel-Media.

 

 

Sidebar