ERFGENAAM VAN GOD

ERFGENAAM VAN GOD. In die Ou Testament* word die land Israel* God se “erfdeel” genoem (2 Sam 21:3 – 1933-Afri­kaanse vertaling). Dit beklemtoon dat Israel die land ontvang het omdat God dit so beskik het. In die Ou Testament word soms ook van die volk Israel as God se “erfdeel” gepraat (Deut 32:9). In die Nuwe Testa­ment* word die gedagte van erfdeel/erfgenaam vergeestelik. So word Christus* b­v soms as “Erfgenaam” uitgebeeld (Mark 12:1-11; Heb 1:2). Afgesien van Chris­tus, word gelowiges* ook “erfgename van God” genoem; hulle is erfgename saam met Christus (Rom 8:17). Die “erfenis” wat gelo­wiges ontvang, word op verskillende ma­niere beskryf, maar is altyd geestelike seë­ninge wat hulle van God ontvang: verlos­sing (Rom 8:23), heerlikheid (Rom 8:17), genade* (1 Pet 3:7), seën* (1 Pet 3:9), ewige lewe* (Tit 3:7). Om ’n erfgenaam van God te wees, is nie iets wat ’n mens self kan ver­dien deur die wet* na te kom nie; God gee dit onverdiend aan mense en dit rus op die belofte* wat Hy aan Abraham* gegee het (Gal 3:18). Dié belofte is in Christus vervul en daarom is almal wat glo, kinders en erfgename van God (Gal 4:7). Hulle is ook erfgename van die beloftes wat God aan Israel gemaak het (Heb 6:17).

Sidebar