ERFSONDE

ERFSONDE. Artikel 15 van die Neder­landse Geloofsbelydenis* verwys na die erfsonde (peccatum naturale of peccatum originale) van die mens. Dit is dus deel van die tradisionele gereformeerde* leer. Hoewel die begrip self nie in die Bybel* voorkom nie, veronderstel erfsonde dat 1. almal sondaars* is, en 2. dat almal reeds van hulle geboorte af sondaars is. Hierdie leerstuk veronderstel dus die algemeenheid van sonde*, die feit dat alle mense daarin deel en dat die werklikheid om sonde te doen, deel is van die aangebore verdorwenheid of sondigheid van die mens. Hierdie oorgeërfde sondekarakter van die mens is die gevolg van Adam* en Eva* se sonde. Deur die erfsonde het ons “erfgename” geword van Adam se sonde. Deur Adam is alle mense korporatief sondaars. Die mens is ’n sondaar en hy/sy doen sonde (non posse non peccare – nie in staat om nie te sondig nie). Ps 51:7: “Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het,” verwoord die algemeenheid van die sonde en ook dat die mens as sondaar gebore word. Omdat ’n mens se ouers en grootouers en oorgrootouers dus sondaars is, word hierdie sonde oorgeërf. Die logiese afleiding is dat ’n mens nie anders kan as om van jou geboorte af ’n sondaar te wees nie. Dit moet egter duidelik gestel word dat die erfsonde volgens hierdie beskouing die gevolg is van die daadsonde van Adam (ongehoorsaamheid aan God; opstand teen God; keuse téén God) waarin alle mense deel, en nie seksuele gemeenskap as sodanig (waardeur ’n kind ook verwek kan word) nie. Ander bekende teksverse wat met die erfsonde verband hou, is Gen 6:5, 8:21, Job 14:4, 15:14, Rom 5:12 en 1 Kor 15:21.

In die dogmatiek* lig die begrippe “erfskuld” en “erfsmet” die erfsonde verder toe.

Erfskuld (peccatum imputatum) ver­woord die feit dat Adam se skuld ook elke mens se skuld geword het. Omdat Adam gesondig het, sondig elke mens ook. Erfskuld veronderstel die algemeenheid van die sonde waaraan almal deel het. “Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het” (Rom 5:12). ’n Mens deel kollektief in Adam se sonde (almal het deel aan Adam se sonde). Omdat elke mens deur die erfskuld deel het aan die sonde van Adam, word die algemeenheid van die sondeskuld aan ’n mens toegereken en word ’n mens ook daarvoor gestraf.

Die feit van ’n mens se algemene verdorwenheid staan as erfsmet (peccatum inhaerens) bekend. Deur die erfsmet is ’n mens geneig om sonde te doen en word ’n mens self, sy/haar naaste en die ganse skepping, net verder in die ellende gedompel. Sien bv Rom 3:9-20 en Gal 5:19-21.

Die leerstuk oor die erfsonde/erf­skuld/erfsmet word al baie lank, en deesdae selfs meer, betwis as onregverdig en onaanvaarbaar. Die vraag word gestel hoe dit dan kan wees dat die sonde van Adam en Eva millennia later nog ’n effek kan hê op elke kindjie wat gebore word. Die punt is egter dat hulle sonde ten diepste opstand teen en ongehoorsaamheid aan God was, en dit is nog altyd kenmerkend van die mensdom. Hoewel geskape na die beeld van God en daarom met die vermoë om vir God te kan kies, vertel die Bybel* dat die eerste mense teen God gekies het … en ons weet dat mense nog altyd teen God kies. Maar die God wat die “oorspronklike” sonde, en daaropvolgende sondes/keuses téén God, straf, is ook die God wat die weg van verlossing* van die erfsonde – dus: vergewing van álle sondes en daarom ook die vergewing van verkeerde keuses teen God – aangedui het: deur Jesus Christus*.

 

Sidebar