ERIUGENA, JOHANNES SCOTUS

ERIUGENA, JOHANNES SCOTUS (circa 810–877) is ’n Ier uit die negende eeu wat na Frankryk gegaan het om daar die beskerming van Karel die Kale te ontvang. Eriugena beklee nie ’n kerklike pos nie, maar staan in beheer van die paleisskool. Hy is dus ’n geleerde in diens van die ko­ning. Sy later lewe is onbekend.

Eriugena is vir twee redes bekend. Eers­tens het hy die werke van Pseudo-Dionysius die Areopagiet* uit Grieks* in Latyn vertaal. Hierdie werke, wat sowel die hemel as die aardse kerk* in hiërargieë opdeel waarin elkeen sy plek moet ken, het groot invloed in die Middeleeue uitgeoefen.

Tweedens is hy bekend vir die werk Oor die verdelings van die natuur wat hy teen 862 voltooi het. Hiervolgens deel Eriugena die natuur in vier dele in: 1. natuur wat ongeskape is, maar skep (God); 2. natuur wat geskape is en skep (oer-oorsake); 3. natuur wat geskape is maar nie skep nie (dinge wat waargeneem kan word); 4. na­tuur wat ongeskape is en nie skep nie (God, waarna alles moet terugkeer). Met hierdie werk bemiddel Eriugena tussen die Neoplatonistiese leer van emanasie*, en die Christelike leer van die skepping*.

Vierhonderd jaar later sou pous Hono­rius III die leer van Eriugena veroordeel omdat dit te panteïsties (Kyk by: Panteïsme) vir die tyd was.

 

Sidebar