ERLANK, WILLEM JAKOBUS DU PLOOY (EITEMAL)

ERLANK, WILLEM JAKOBUS DU PLOOY (EITEMAL) (1901–1985) se belang­rikste werk – inderdaad ’n klein meesterstuk – is Jaffie (1953). Dit is ’n “eselsromannetjie” waarin die verhaal van Christus* se geboorte, lewe en sterwe deur dierekarakters vertel word saam met ’n relaas oor hulle eie familie en voorgeslagte se doen en late wat terugloop tot by die Betlehem-stal. Die verhaal sluit aan by Middeleeuse voorstellings waarin die esel in die uitbeelding van Christus se verhaal ’n belang­rike rol speel. In Erlank se roman is dit die ou esel, “oom” Vaaltyn, wat die eselsgeskiedenis vervleg met die Christus-verhaal aan jong Jaffie vertel. Vaaltyn raak in die loop van sy vertelling, wat oor ’n tydperk strek, afgetakel tot sy dood, en Jaffie groei tot volwassenheid. Die eselshoek van waaruit die heilsgeskiedenis vertel word, gee daaraan ’n besondere dimensie, en Eitemal slaag daarin om sy verhaal eg en esteties-bevredigend te laat oorkom. Die onbegryplike en onsêbare van die Jesus*-verhaal word gekontrasteer met die eenvoud, die aardse en die onwaarskynlike van die ou, sterwende, pratende plaasesel en die jong Jaffie in die fleur van sy lewe. Oerwaarhede kry nuwe betekenis komen­de van oom Vaaltyn.

Ander werk van Erlank, wat as professor saam met onder meer DJ Opperman* letterkunde op Stellenbosch doseer het, sluit in Skaduwees teen die muur (1958).

 

Sidebar