ERVARINGSTEOLOGIE

ERVARINGSTEOLOGIE. Elke vorm van teologie* as “nadenke oor God” probeer om ’n plek aan mense se ervaring van God te gee. Ervaring word erken as ’n “bron” van teologie naas die Bybel*, die kerklike tradisie en die menslike rede. Godservarings maak ’n belangrike deel van die Skrifverhale uit: Moses*, Elia* en Jeremia* uit die Ou Testa­ment*, en Petrus*, Paulus* en Johannes*2 uit die Nuwe Testament*, het lewensveranderende ontmoetings met God gehad. Naas indiwiduele ervarings, is daar ook die erva­rings wat geloofsgemeenskappe met God het.

Daar is breedweg vier soorte teologieë wat ’n besondere plek aan ervaring toeken:

  1. Die klassieke teologieë wat deur Origenes* (158–254), Ignatius van Loyola* (1491–1556) en die mistieke* denkers loop. 2. Moderne teologieë, waar religieuse ervaring as uitgangspunt vir sistematiese denke oor God geld, soos by Friedrich Schleier­macher* (19de eeu) en Paul Tillich* (20ste eeu). 3. Bevrydingsteologieë wat sterk daarop aandring dat die ervaring van vroue (feminisme*), armes (bevrydingsteologie*) of swartmense (swart teologie*) as korrektief dien op bloot intellektualistiese naden­ke oor God. 4. Pentekostalistiese teologieë waar ervarings van die Heilige Gees*, indiwidueel en korporatief, sterk beklemtoon word en in sommige gevalle as vereiste dien vir egte bekering*. Gereformeerde* teologie aanvaar die werklikheid van erva­ring, maar is meer terughoudend om dit as onafhanklike bron van Godskennis te erken.
Sidebar