ESEGIËL (BYBELBOEK).

ESEGIËL (BYBELBOEK). Esegiël* het as profeet* opgetree onder die mense wat reeds in ballingskap* was. Selfs wanneer hy praat oor dinge wat in Jerusalem* gebeur en profesieë uitspreek oor wat daar gaan gebeur, was hy besig om met die ballinge te praat. Die boek self is waarskynlik nie lank ná die laaste profesie, in 571 vC, vol­tooi nie, alhoewel die presiese datum van die finale redaksie van die boek nie bekend is nie. Die boek was, soos die oorspronklike profesieë, gerig tot die ballinge in Babel*.

Verdeling: Die boek kan in drie dele verdeel word. Die eerste deel, hoofstuk 1–24, bevat profesieë wat die profeet uitgespreek het vóór die val van Jerusalem*. In dié gedeelte word die roeping van die profeet eers beskryf (1–3), en daarna volg uitsprake oor Jerusalem, veral die komende val van die stad. Die tweede deel van die boek, hoofstuk 25–32, bevat profesieë wat Esegiël teen die nasies uitgespreek het. Die meeste van hierdie uitsprake dateer uit die tyd net vóór en ná die val van Jerusalem. Die derde deel van die boek, hoofstuk 33–48, bevat profesieë wat die profeet uitgespreek het ná die val van Jerusalem. Hierin word profesieë aangetref wat weer verlossing aankon­dig. Eseg 40-48 bevat ’n gesig wat handel oor die herstel van die land, die terugkeer van die volk en die herbou van die tempel*2.

Boodskap: Die boodskap van die boek is nou verbind aan die drie dele wat daarin aangetref word. Nadat die Here* vir Esegiël geroep het, moes hy die volk in ballingskap waarsku. Hulle het gehoop dat hulle spoedig na hulle eie land sou terugkeer. Daar was ook vals profete wat hierdie vals verwagting by die volk versterk het (Eseg 13). Esegiël moes hierdie vals verwag­ting ontmasker deur aan die volk te verkondig dat die Here se oordeel weer die mense in Juda* sou tref. Die stad en die tempel sou verwoes word en die mense wat in Juda en Jerusalem oorgebly het, sou ook in ballingskap gaan. Dit is die basiese boodskap van die eerste deel van die boek, tot by hoofstuk 24. Hierna volg in hoofstuk 25–32 uitsprake teen die nasies, wat wys dat God in beheer van die wêreldgeskiedenis is. God het volke soos die Babiloniërs gebruik as instrument om sy volk te straf, maar hulle sal self ook onder God se oordeel kom. Ná die val van Jerusalem verander die boodskap van die boek van hoofstuk 33 af. Nou kom daar weer ’n boodskap van hoop. As die volk in ballingskap hulle sonde besef en hulle tot God bekeer, sal Hy hulle weer verlos en na hulle eie land terugbring. Daar sal ook weer ’n nuwe tempel wees, waar die volk die Here sal kan aanbid.

In die boek word Esegiël telkens aangespreek as “mens” (mensekind, kind van die mens), ’n titel wat daarop dui dat die profeet maar net ’n mens is vir wie God tot ’n besondere taak geroep het. Die heerlikheid van die Here kom baie sterk na vore in die boek. Die mens se persoonlike verant­woordelikheid kry ook besondere klem (Eseg 18). Elke mens sal verant­woording moet doen vir sy eie optrede.

Vir verdere lees: DI Block 1997. The book of Ezekiel: Chapters 1–24. Grand Rapids: Eerdmans.

Sidebar