Esegiël (PERSOON)

Esegiël (PERSOON) is die derde van die drie groot profete in die Ou Testament*. Die ander twee is Jesaja* en Jeremia*. Ese­giël was ’n jonger tydgenoot van Jeremia. Hy het as profeet opgetree onder die ballinge in Babel* en die eerste deel van sy optrede het saamgeval met die laaste deel van Jeremia se optrede in Jerusalem*. Josia*, in wie se tyd daar ’n groot godsdienstige hervorming plaasgevind het (2 Kon 22–23), is in 609 vC oorlede. Hy is eers opgevolg deur twee seuns, Joahas* (609) en Jojakim* (609–598), daarna deur sy klein­seun Jojagin* (598–597) en toe weer ’n seun, Sedekia* (597–586). In hierdie tyd het die volk van Juda* vinnig op hulle ondergang afgestuur. In die tyd van Josia het die Assiriese Ryk*, wat lank die toneel oorheers het, tot ’n einde gekom. Die nuwe wêrel­d­ryk was die Nieu-Babiloniese Ryk, wat sy hoogtepunt beleef het onder Nebukad­nesar*. Onder sy leiding is Jerusalem in 598 vC beleër. Tydens die beleg is Jojakim oorlede en is hy deur sy seun Jojagin opge­volg. Hy het op 16 Maart 597 vC oorgegee aan die Babiloniërs (2 Kon 24). Die stad is nie verwoes nie, maar Jojagin self moes in ballingskap gaan saam met 10 000 leiers van die volk. Jojagin het in die tronk gebly totdat hy ná 37 jaar vrygelaat is (2 Kon 25:27-30). In Jerusalem is sy oom Sedekia* deur Nebukadnesar op die troon geplaas. Hy het egter ná agt jaar in opstand gekom teen die Babiloniërs*. Die stad is toe vir ’n tweede keer beleër, agtien maande lank. Hierna is die stad ingeneem en die stad en die tempel* is verwoes. Sedekia se seuns is voor hom doodgemaak, hy is verblind en toe na Babel in ballingskap weggevoer, saam met ’n groot deel van die volk.

Esegiël, wat self van priesterlike afkoms was, was een van die 10 000 ballinge wat saam met Jojagin in ballingskap geneem is in 597 vC. Hulle het langs die Kebarrvier gewoon (Eseg 1:1), eintlik ’n besproeiingskanaal wat noord van Babel uit die Eufraatrivier gevloei en weer suid van die stad terug in die rivier geloop het. Die water is gebruik vir besproeiing van landerye, waar die ballinge waarskynlik ge­werk het. Hier is Esegiël in 593 vC tot profeet geroep. Iets wat besonders is in die boek Esegiël, is die datums wat telkens in die boek voorkom. Met die uitsondering van die dertigste jaar waarna Eseg 1:1 verwys, is al die datums verbind aan die ballingskap van koning Jojagin. Esegiël se laaste profesie wat gedateer is, kom uit 571 vC. Hy het dus meer as twintig jaar lank as profeet in Babel onder die ballinge opgetree. Gedu­rende hierdie tyd is Jerusalem ingeneem en verwoes. Die verwoesting van Jerusalem het ’n belangrike wentelpunt in die werk van Esegiël gebring.

Sidebar