ESKATOLOGIE

ESKATOLOGIE. Gewoonlik verstaan mense onder eskatologie “die leer van die laaste dinge” en dan dink hulle aan die dinge wat hulle meen kort voor en tydens die wederkoms* van Christus* sal gebeur. Die gedagte is dat ons sedert Christus se aardse bediening in ’n lang, neutrale tydperk ingegaan het, maar dat ons so onge­veer in ons tyd die “eindtyd” ingaan wanneer die “laaste dinge” moet gebeur. Dit is dan waaroor dit in die eskatologie sou gaan.

Ons het egter in die Nuwe Testament* ’n ander prentjie. Daar lees ons dat Jesus* se geboorte al in “die laaste dae” was, en net so die koms van die Gees*, dat die gemeentes toe al in die eindtyd geleef het, trouens Johannes*2 noem sy tyd selfs “die laaste uur” (Heb 1:2; Hand 2:17; 1 Kor 10:11; Heb 9:26; 1 Joh 2:18). In ooreenstemming hiermee lees ons telkens dat die koms van die Here Jesus (toe al!) naby was (Rom 12:13; 1 Kor 7:29; Jak 5:8-9). Trouens, die Here Jesus self praat nie met sy dissipels oor ’n tyd in die verre toekoms nie. Hy verwys na wat hulle self gaan beleef. Let op die “julle” in Matt 24. Die tekens wat Hy gee oor sy koms, word reeds in die tyd van die Nuwe Testament vervul: die Antichris*, die vervolging, die evangelie* wat aan alle nasies (waarvan hulle geweet het) verkondig word (1 Joh 2:18, 22; 4:3; Hand 7:54 en volgende verse; 11:19 en volgende verse; Op 2:10; Kol 1:6, 23; 2 Tim 4:17). Omdat sy koms tóé al naby was, en dus altyd naby is, het Hy nie die tekens gegee om ons te help om te bereken wanneer Hy sal kom nie, maar om ons voortdurend te herinner dat Hy enige oomblik kan kom. Paulus* het selfs daarmee rekening gehou dat die Here* nog in sy leeftyd weer kon kom (1 Tess 5:10).

 

Sidebar