ESRA (BYBELBOEK

ESRA (BYBELBOEK). Die boeke Esra en Nehemia* is oorspronklik as een boek gereken (onder die naam Esra), en het tot die Middeleeue as een boek in die He­breeuse* Bybel* voorgekom. Die Griekse* tradisie het egter sedert die 3de eeu nC dit as twee boeke begin hanteer. Dieselfde het sedert Hieronomus* se Vulgaat* (Latynse vertaling) in die 4de eeu begin gebeur. Daar is ’n hele aantal boeke wat met die naam van Esra geassosieer word, bv die apokriewe* boek 1 Esdras (soms genoem 3 Esra). Dit bevat ’n Griekse vertaling van gedeeltes uit 2 Kronieke, Esra en Nehemia.

In die moderne tyd is Esra-Nehemia as deel van die sg Kronistiese ge­skie­­denis gereken. Hiervolgens sou hierdie boeke saam met 1 en 2 Kronieke ’n eenheids­werk – met dieselfde outeur(s) – vorm waar­in die geskiedenis van Juda* (en Israel*) beskryf word. Dié teorie is veral gegrond op die groot aantal ooreenkomste in terme van inhoud, styl en teologie* wat tussen die onderskeie boeke bemerk kan word. Ander uitleggers het egter ook daarop gewys dat daar ’n aantal prominente verskille is wat nie geïgnoreer kan word nie. Daarom meen sommige vandag dat dit as twee verskillende werke gereken moet word deur dieselfde, maar waarskynliker verskillende, outeurs.

Die inhoud van Esra-Nehemia: Esra 1–6 beskryf die verhaal oor die terugkeer van die ballinge, asook die herbou van die tempel. Hierdie gedeelte word dikwels met Sesbassar*, ’n leier tydens die terugkeer, ge­as­so­sieer.

Esra 7–10 en Neh 8–9 word dikwels die “Esra-gedenkskrif” genoem. Hierdie dele het waarskynlik oorspronklik saam tot stand gekom, en vertel veral die verhaal van Esra se aktiwiteite in die na-ballingskapse tyd.

Neh 1–7 en 11–13 word dikwels die “Nehemia-gedenkskrif” genoem. Dit vertel die verhaal van Nehemia se loopbaan as leier van God se volk ná die ballingskap.

Die boek as ’n geheel is waarskynlik rond­om 400 vC afgerond.

Temas: ’n Hele aantal prominente temas kom in hierdie boek voor. Die wet* van die Here wat as basis moet dien vir die gods­diensbeoefening, vorm ’n grondtema. Die heropbou van die tempel* en stad speel ook ’n belangrike rol. Die tema wat waar­skynlik die moeilikste is om te interpreteer, is die streng maatreëls met betrek­king tot huwelike met vreemde vroue. In Esra 10 en Neh 13 word die Joodse mans kwa­lik geneem as hulle met vroue uit an­der volke getrou het, en word hulle aangesê om hierdie vroue weg te stuur. Hierdie tema is al dikwels gebruik en misbruik om ras­sesuiwerheid in moderne kontekste teologies te legitimeer. Die leser moet egter daarop let dat dit in Esra-Nehemia oor die identiteit van God se volk in die na-balling­skapse tyd handel. Die motivering vir die suiwerheid van die Jode* word gegee uit die priesterlike gedagte van reinheid en heiligheid. ’n Mens moet ook daarop let dat daar ander Ou-Testamentiese boeke is wat blykbaar ’n soort protes verteenwoordig teen hierdie eng identiteitsiening van die Jode (vgl bv Jona*, Rut* en Maleagi*).

Sidebar