ESRA (PERSOON)

ESRA (PERSOON) was ’n Joodse* leier wat in die na-ballingskapse tydperk (Kyk by: Ballingskap) ’n prominente rol gespeel het. Hoewel inlig­ting oor Esra redelik skaars is, kry ons ’n blik op hom in die boeke Esra* en Nehemia* (Esra 7–10 en Neh 8–12). In Esra 7:1 word vermeld dat hy in die sewende jaar van die Persiese koning Artasasta* (ook bekend as Artaxerxes*) van Babilon* na Jerusalem* gekom het. Daarvolgens word normaalweg aanvaar dat Esra in 458 vC na Jerusalem gekom het (dus 13 jaar vóór Nehemia wie se koms in 445 vC gedateer word). Hierdie aanduiding is egter problematies omdat daar drie konings met die naam Artaxerxes in Persië geregeer het. Sommige meen dat die aanduiding in Esra 7:1 eerder verwys na Artaxerxes II, met die gevolglike datering van Esra se koms na Jerusalem in 398 vC. Esra sou dan later as Nehemia opgetree het. Hoewel dit ’n goeie verklaring bied vir die Bybelse beeld dat Esra en Nehemia klaarblyklik nie veel van mekaar geweet het nie, hou die meeste uitleggers nog by die vroeër datering van Esra.

Dit is onseker presies watter verhouding Esra tot die Persiese regering gehad het en of hy ’n amptenaar in hulle diens was. Die edik van Artaxerxes wat in Esra 7 vermeld word, skep egter die indruk dat Esra se missie deur die Persiese koning ondersteun is.

Die boek Esra* stel Esra voor as iemand wat geskool was in die wet* van Moses* (Esra 7:6), en dat hy van Sadok* en Aäron* afge­stam het (Esra 7:1-6). Volgens Neh 8:1 en volgende verse het Esra die wetboek van Moses vir die teruggekeerde ballinge voorgelees in die Waterpoort* van die stad Jerusalem. Esra 9 gee ’n blik op hom as emosionele persoon wat sy klere skeur en sy hare en baard uitpluk as hy hoor dat die Jode met vroue uit ander volke getrou het.

Dit is onseker wat Esra se uiteinde was. Wanneer Jesus Ben-Sirag*, ’n wysheidskrywer van die 2de eeu vC, ’n lang Pryslied aan die vaders skryf, vermeld hy nie eers vir Esra nie. Die later rabbynse tradisie het Esra egter geëer en hom selfs as die skrywer van die Pentateug* beskou.

Sidebar