ESTER (BYBELBOEK)

ESTER (BYBELBOEK) is die laaste van vyf boekrolle wat in die Joodse* tradisie saamgegroepeer is in die derde deel van die Hebreeuse Bybel* (genoem die Geskrifte) en waaruit tydens Joodse feesdae voorgelees word. In die Christelike tradisie word die Griekse vertaling (Septuaginta*) se herin­deling van die boeke nagevolg, met Ester as die laaste van die sogenaamde historiese boeke. Die Septuaginta bevat ook ses byvoegings tot die verhaal, maar dit word net in die Katolieke* tradisie as deel van die kanon* erken. Hierdie byvoegings probeer om die godsdienstige aard van die verhaal te beklemtoon.

Teks: Ester het ’n sterk patriotiese inslag en is in Hebreeus* geskryf, alhoewel die verhaal afspeel aan die Persiese hof waar Aramees* die voertaal was.

Die Protestantse* kanonieke vorm van die boek vertel die verhaal agter die Purimfees*. Die literatuursoort herinner aan hofverhale wat ook in die verhalende deel van die boek Daniël* (Dan 1–6) voorkom.

Samestelling: Die verhaal is in tien hoofstukke verdeel met ’n duidelike inleiding (1:1–2:23), hoofvertelling (3:1–9:19) en slot (9:20–10:3). Benewens die historiese inkle­ding waarmee die verteller die verhaal versier, getuig die struktuur en verteltegniek van goeie beplanning.

Die inleiding skep die stemming vir die verhaal. Ester 1 fokus op Persiese karakters en gebruike en skets in oordrewe taal drie van altesaam tien onthale/feeste waarvan die boek vertel (1:3; 1:5; 1:9; 2:18; 3:15; 5:4; 7:1; 8:17; 9:17 en 9:18). Tydens ’n onthaal gebied die besope koning Ahasveros* dat sy mooi koningin, Vasti*, gehaal word sodat hy met haar kan spog. Wanneer sy weier, beveel wetkenners aan dat sy by wyse van ’n onherroeplike dekreet afgesit word. Ester 2 stel die belangrikste Joodse karakters be­kend. Ester (Hadasasa in Hebreeus), ’n baie mooi Joodse* weeskind, word uitgekies as nuwe koningin, maar sy hou haar identiteit geheim. Mordegai*, haar voog, ontbloot ’n sameswering teen die koning.

Die hoofvertelling begin met konflik tussen Mordegai en Haman*, die koning se nuwe hoofamptenaar. Mordegai weier om Haman, op bevel van die koning, te vereer. Haman verkry ’n onherroepbare proklamasie van Ahasveros om die Jode* uit te wis (hfst 3). Mordegai vra Ester om by die ko­ning vir haar volk in te tree (hfst 4) en sy nooi Ahasveros en Haman na ’n onthaal (hfst 5). Ahasveros onthou dat Mordegai nog nie vereer is nadat hy die sameswering ontbloot het nie. Ironies genoeg is dit Haman wat die eerbewys beplan en moet uitvoer (hfst 6). Tydens die onthaal maak Ester haar identiteit bekend en pleit vir haar volk. Terwyl Haman by Ester pleit om sy lewe, besluit die koning dat hy moet sterf (hfst 7). Ester en Mordegai verkry ’n onherroepbare proklamasie van Ahasveros dat die Jode hulleself mag verdedig (hfst 8). Toe die dag van uitwissing aanbreek, het die Jode 75 000 vyande gedood en feesge­vier (hfst 9).

Die verhaal sluit af met ’n opsomming van die gebeure en die instelling van die Purimfees, asook ’n verwysing na Mordegai se hoë posisie (9:20–10:3).

Nêrens in die verhaal word na God verwys nie. Tog is God se implisiete teenwoor­digheid waar gelowiges te midde van le­wens­krisisse planne bedink, ’n blywende troos.

Sidebar