ESTERHUYSE, WILLEM PETRUS (WILLIE)

ESTERHUYSE, WILLEM PETRUS (WILLIE) (1936–), is een van die bekendste filosowe en teoloë wat Suid-Afrika nog opgele­wer het. Hy studeer aan die universiteite van Stellenbosch en Utrecht en behaal sy doktorsgraad met ’n proefskrif oor Nietzsche*, wat later in boekvorm gepubliseer word. Hy doseer filosofie* en staatsleer aan die Universiteit van Durban-Westville en later aan die Randse Afrikaanse Universiteit. Hy word in 1974 hoogleraar in filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch, en tree in 1998 af. Van 1989 af is hy ook deels verbonde aan die Bestuurskool van die Universiteit van Stellenbosch.

Hy onderskei hom op die terreine van die sosiale en politieke filosofie en is een van die grondleggers van die sake-etiek as dissipline in Suid-Afrika. Hy verwerf veral bekendheid as politieke analis en kommentator. Hy speel in die jare 1987–1990 ’n sentrale rol in die eerste ernstige (nie-amptelike) onderhandelings – of “gesprekke oor gesprekke oor gesprekke” – tussen die laaste Nasionale Party-regering in Suid-Afrika en die (in daardie stadium nog verbanne) African National Congress, hoofsaaklik omdat hy een van die min figure in Suid-Afrika was wat deur albei groepe genoegsaam as “boodskapdraer” vertrou is. Hy is vereer met die Stals­prys vir Filosofie, ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Stellenbosch, en die Orde van Luthuli van die Republiek van Suid-Afrika. Bekende publikasies van Esterhuyse is Afskeid van apartheid (1982), God en die gode van Egipte(2009), waarin hy drasties afwyk van die tradisionele gereformeerde* teologie*, soos nog meer so in Geagte Jahwe (2015) – sy “afskeid van die Michelangelo-fiksie: goddelike Vaderfiguur met menslike gelaatstrekke”. Hy skryf ook boeiend oor die geheime onderhandelinge tussen 1987 en 1990 en sy rol in daardie tyd in nog ‘n boek, “Eindstryd” (2012).

Vir verdere lees: AA van Niekerk (samesteller) 1996. Filosoof op die markplein: opstelle vir en deur Willie Esterhuyse. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.

 

Sidebar