ETIEK, CHRISTELIKE

 

ETIEK, CHRISTELIKE. Soms word na dogmatiek* verwys as die wetenskaplike nadenke oor wat die mens glo en na etiek* oor wat die mens doen; in die dogmatiek gaan dit oor die “regtheid” van die geloof en in die etiek oor die “egtheid” daarvan (G Th Rothuizen). So gesien, gaan dit oor “geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan” (Gal 5:6).

Die etiek hou hom besig met ménslike handelinge, houdings, gesindhede asook, vir sover moontlik, die gevolge daarvan.

Tweedens handel etiek oor die behorensmatige aspek. Etiek handel nie bloot oor wat mense dóén nie (deskriptiewe etiek), maar veral oor wat mense behóórt te doen (preskriptiewe etiek) – en selfs nié behoort te doen nie (proskriptiewe etiek). Etiek wil mense help om behoorlik tussen goed en kwaad te onderskei (Heb 5:14).

Daar is al veel gedebatteer oor die vraag of “Christelike” etiek moontlik is. Ons volstaan deur enkele van die belangrikste kenmerke daarvan op te som.

  1. Dit is duidelik dat sodanige etiek volle­dig teologiese* (trinitariese) etiek behoort te wees. Geskep na die beeld van God, is die mense geroep om die karakter van God – bv liefde, vergewing, heerskappy, diens – op aarde te weerspieël. As sondaar is die mens egter nie (ten volle) in staat om moreel goed te leef sonder die verlossende en versoenende werk van Jesus Christus* en die vernuwing deur die Gees* nie, waardeur die beeld van God in die mens herstel word. Daarom is geloof* in en navolging van Christus ’n onmisbare element in die Christelike etiek (1 Pet 2:21) en so ook die vernuwende werk van die Gees (Tit 3:5).
  2. Dit is bibliologiese etiek – ’n etiek waar die Bybel* as Woord van God die bron en norm is. Die doel van die Ou Testament* (en Nuwe Testament*) is om mense te help om ’n “regte lewenswyse aan te kweek” en hulle toe te rus vir elke goeie werk (2 Tim 3:16-17). Bibliologiese etiek is egter iets anders as “biblisistiese etiek” waarin die Skrif* op simplistiese en kontekslose wyse hanteer word. Daarom is die Skrifberoep* in die etiek belangrik en daarom moet etiese antwoorde nie op grond van los tekste nie, maar uit Christus as sentrum van die Skrif en as finale openbaring van God gesoek word (Heb 1:1-2).
  3. Dit is ook humanologiese etiek, dit wil sê ’n etiek waarin die méns volledig ernstig geneem word. Persoonsliefde, medemenslikheid, ook vyandsliefde, speel hier ’n sentrale rol. Liefde* tot die naaste is deel van die Groot Gebod (Mark 12:29-31; vgl Rom 13:8; Gal 5:14). Die goue reël* is: Doen aan ander wat jy graag aan jouself gedoen wil hê (Matt 7:12). Christelike etiek is nie humanistiese etiek nie, maar voluit humane etiek, met ’n besondere belangstelling vir die noodlydende, onderdrukte en gemarginaliseerde mens (vgl Matt 25:31-46).
  4. Christelike etiek is kosmologiese etiek, want etiek het ook te doen met die mens se verhouding tot die skepping*, die diere- en planteryk, die natuur. Die mens het die opdrag ontvang om die skepping te “be­werk” én te “bewaak” (Gen 2:15) en daarom is omgewingsbesoeling en ekologiese ver­steuring in stryd met die gebod van God. (Kyk by: Ekologie en godsdiens.)
  5. En dan ook: eskatologiese etiek, omdat hier voluit rekening gehou word met die koms van die koninkyk* van God. As die koninkryk getipeer kan word as die wesenlike inhoud, die kern en die doel van die ganse wêreldgeskiedenis (H Bavinck), dus as die ruimte waarbinne die mens leef en die doel waarna hy streef, dan behoort die koninkryk ’n deurslaggewende invloed op die mens se moraal uit te oefen. Die rigting waarin hy leef en die doel waarna hy streef, is die realisering van die koninkryk van God, die nuwe hemel* en die nuwe aarde*. Die mens is geroep om midde-in ’n stukkende wêreld tekens op te rig van God se nuwe wêreld. (Vir die verskillende soorte etiek kyk by: Etiek, toegepaste.)

Vir verdere lees: DE de Villiers 1978. Die eiesoortigheid van die Christelike moraal. Amsterdam: Rodopi. JA Heyns 1982, 1986, 1989. Teologiese etiek (drie dele). Pretoria: NGKB. JH van Wyk 1986. Gesindheid en gestalte. Pretoria: NGKB.

Sidebar