ETIEK, EKONOMIESE

ETIEK, EKONOMIESE. Die woord “eko­nomie” is afgelei van twee Griekse* woorde oikos en nomos en saam beteken dit die reël van die huishouding. In die antieke Griekse samelewing het die ekonomie oor die bestuur van huishoudings gegaan. Vandag omsluit dié woord instellings en prosesse rakende die produksie en verspreiding van materiële goedere. Alhoewel daar groot verskille tussen ekonomiese sisteme is, gaan dit by almal oor die organisering van stoflike behoeftes aan kos, klere, huisvesting, implemente, voertuie, ens. Maar die ekonomie sluit ook nie-materiële goedere in soos patente, kopiereg, dienste en sekere wetlike opsies. Enigiets waarop ’n mens ’n sekere waarde kan plaas, is inherent ekonomies van aard.

Daar is tans wêreldwyd ’n debat aan die gang oor die groot en groeiende gaping wat bestaan tussen rykdom (ryk mense/lande) en armoede (arm mense/ lande) en wat daaraan gedoen kan word. Die ekonomie besin ook oor die rol wat regerings hierin behoort te speel – in watter mate hulle die manier waarop besigheid bedryf word, behoort te beheer, en be­trokke moet wees by die herverdeling van rykdom. Die ekonomie vra óók hoeveel van die instrumente van produksie, kommunikasie en handel deur die publiek besit behoort te word.

Voor die 18de eeu was die ekonomie onlosmaaklik aan die teologie*, filosofie* en etiek* gebind. Maar gedurende die 18de eeu, met sy ontwakende handelsgees, het die ekonomie onafhanklik van bg ter­reine begin funksioneer. Die vestiging van die vrye mark, waarin alle deelnemers hulle eiebelang begin soek en bevorder het, het die verhouding tussen ekonomie en morele waardes* ’n knou gegee.

Sedertdien het die teologiese debat oor die ekonomie grootliks gedobber tussen die kapitalistiese en sosialistiese pole (Kyk by: Kapitalisme (Vryemarkekonomie) en Sosialisme.)

Die teologies-etiese inset ten opsigte van die ekonomie moet wees om verant­woor­delik saam te dink oor globalisering*, die onregverdigbare groeiende gaping tussen rykes en armes, en die verband tussen politieke spanning en globale ekonomiese onsekerhede. Die kerk* het die verantwoor­delikheid om ’n “kerklike” bydrae te lewer tot die gesprek, ontwikkeling en strukturering van ’n nuwe internasionale eko­no­mie en om deugsame mense te help kweek met insig oor waarop dit op stuk van sake aankom. (Kyk ook: Ekonomiese ongelyk­heid en: Ontwikkelingshulp.)

Vir verdere lees: MD Meeks 1989. God the Economist: The Doctrine of God and Political Economy. Minneapolis: Fortress Press. PB Clarke en A Linzey 1996. Dictionary of Ethics, Theology and Society. Londen/New York: Routledge.

Sidebar