ETIEK, INLIGTINGS

ETIEK, INLIGTINGS- is ’n onderafde­ling van toegepaste etiek wat fokus op die herkenning, ontleding en praktiese hantering van morele probleme wat voortspruit uit die insameling, stoor, verspreiding en gebruik van inligting. Met die opkoms van ’n diens- en inligtingsgebaseerde ekono­mie, en die toenemende gebruik van snel-ontwikkelende elektroniese tegnologie vir saketransaksies, kommunikasie, studie en ontspanning, ontstaan geleenthede vir in­di­widue, sakeondernemings en owerhede om meer en akkurater inligting oor mense te versamel as wat ooit voorheen moontlik was. Alhoewel heelwat van die morele kwessies hieraan verbonde nog skaars tot ons deurgedring het, staan privaatheid, die beskerming van persoonlike inligting, en die privaatheid van kommunikasie in die werkplek, sentraal in inligtingsetiek. Vol­gens De George (2003) sal inligtingsetiek in die toekoms ook fokus op: 1. die mite dat inligtingstegnologie amoreel is; 2. die verleiding van die tegnologiese imperatief wat alle klem plaas op die ontwikkeling van tegnologie en die sosiale impak daarvan verwaarloos; 3. die gevaar dat die infrastruktuur van inligtingstegnologie so tegnies van aard is en buite die publieke oog ontwikkel, dat ’n ingeligte openbare debat daaroor deur eindgebruikers haas onmoontlik is; en 4. die probleem dat tegnologiese ontwikkeling sy eie loop neem, en nie noodwendig die rigting inslaan waar die dringendste sosiale behoeftes bestaan nie.

Vir verdere lees: RT de George 2003. The Ethics of Information Technology and Business. Oxford: Blackwell Publishing.

 

Sidebar