ETIEK, KOMMUNITARIESE

ETIEK, KOMMUNITARIESE. Kommu­ni­tariese etiek het, soos die woord sugge­reer, met ’n fokus op gemeenskap te maak. Dit dien dus as ’n kritiek op ’n indiwidua­listiese etiek wat nie genoeg met begrippe soos deugde*, praktyke en tradisie* rekening hou nie. Die term “kommunitariese etiek” herinner meer spesifiek aan ’n bepaalde reeks debatte in die politieke etiek. Die hart van hierdie gesprekke tussen die sogenaamde liberaliste (“liberals”) en die kommunitariërs (“communitarians”) sentreer rondom die vraag in watter mate die indiwidu sy of haar eie lewenswyse kan kies en in vryheid hieraan uitdrukking kan gee. Hierdie vraag word geïntensifeer wanneer hierdie vryheid in konflik met die waardes* en verbintenisse van gemeenskappe en die samelewing kom. Oorvereenvoudig be­skou, kan gesê word dat die liberalistiese posisie die klem sterk op die vryheid of outonomie van die indiwidu laat val, terwyl die kommunitariese benadering aan die waarde van die gemeenskap voorrang gee. ’n Klassieke uitdrukking van die sogenaamde liberalistiese benadering, is John Rawls se invloedryke boek A Theory of Justice (1971). Kommunitariese kritici op hierdie posisie sluit belangrike denkers soos Michael Sandel, Alasdair MacIntyre, Charles Taylor en Michael Walzer in. Rawls sou later sy eie posisie herformuleer, maar die gesprek tussen diegene wat hulle met die liberalistiese benadering identifiseer, en diegene wat hulleself met ’n meer kommunitariese benadering vereenselwig, gaan steeds voort, al is dit in nuwe gedaantes.

 

Sidebar