ETIEK, PERSOONLIKE

ETIEK, PERSOONLIKE. Die term “persoonlike etiek” het eintlik nie algemeen aanvaarde en vakkundige betekenis binne die breë veld van die Christelike etiek* nie. Tog kan die toevoeging van die term “persoonlike” tot die term “etiek” die volgende inhou:

Eerstens sou die bedoeling hiervan kon wees om in geen onduidelike taal nie die mens te laat verstaan dat hy/sy sélf vir sy/haar morele gedrag verantwoordelik is. Die mens is nie ’n robot wat gemanipuleer word nie, maar staan in ’n persoonlike verhouding met God, met ander mense en die omgewing, wat op hulle beurt weer sy/haar identiteit en optrede help bepaal.

Tweedens sou die bedoeling kon wees om dit met die sosiale etiek* te kontrasteer. Dit sou dus dui op interpersoonlike verhoudings in teenstelling met die fokus van die sosiale etiek op die groter en meer komplekse aspekte van mens-wees binne die breër samelewing. Dis ’n verstaanbare onderskeid, solank daarmee nie bedoel word dat die persoonlike losgemaak word van die mens se verantwoordelikheid teenoor die breër sosiale strukture en prosesse nie.

Vir verdere lees: J Macquarrie en J Childress 1990. A New Dictionary of Christian Ethics. Londen: SCM.

Sidebar