ETIEK, RASIONALISTIESE

ETIEK, RASIONALISTIESE is ’n breë modern-Westerse etiese stroming wat die idee verwerp dat moraliteit (Kyk by: Moraal) gebaseer moet word op ’n bron van (Goddelike) gesag, ekstern aan die menslike natuur. Moraliteit ontstaan eerder uit die menslike natuur self, en het te maak met indiwiduele self-regulering. Hugo Grotius* (1583–1645) lê die grondslag vir hierdie opvatting met sy leerstelling dat indiwidue ’n reg het om vir hulleself te besluit, en dat moraliteit die omstandighede skep waarin dit kan ge­beur. Onder die invloed van Thomas Hob­bes se Leviathan (1651) word moraliteit toe­nemend gesien as die stappe wat rasionele mense uit eie beweging neem om ’n ordelike samelewing te verseker. John Locke* (1632–1704) bou voort op hierdie gedagtelyn met sy idee van die onvervreembare regte van indiwidue, waardeur die mag van die staat beperk kan word. In die 18de eeu voer Immanuel Kant* (1724–1804) etiese rasionalisme tot ’n hoogtepunt met sy interpretasie van die morele wet as die ka­tegoriese imperatief (absolute plig) om net dit te doen wat ons rasioneel kan wil dat almal anders dit ook doen. Volgens Kant kan ons alleenlik absolute pligte aanvaar as ons dit aan onsself oplê, en niks van buite ons beïnvloed nie, dit wil sê, as ons volkome vry en gevolglik outonoom is.

Vir verdere lees: JB Schneewind 1991. “Modern Moral Philosophy” in: Peter Singer (red), A Companion to Ethics. Oxford: Blackwell Publishers.

Sidebar