ETIEK, SEKSUELE

ETIEK, SEKSUELE. Daar word gewoonlik onderskei tussen seks (’n biologiese funksie van die geslagsorgane) en seksualiteit* (’n grondliggende, emosionele di­men­sie van mens-wees wat nou verbonde is met hoe mense hulle self verstaan en by ander aansluiting vind). In seksuele etiek word Christelike beginsels en seksuele gedrag met mekaar in verband gebring.

Toegeneentheid en nabyheid is noodsaaklik vir enige mens, of jy nou getroud of alleenlopend is. Seksuele genot as sodanig is goed; om die liggaam te misbruik (jou eie en ander s’n) en die obsessie om seksuele ervaring te hê verby die grense wat God daargestel het, is sleg. Die Chris­telike etiek probeer die seksdrang kanaliseer omdat dit so kragtig is en omdat dit die moontlikheid inhou om seer te maak sowel as te heel. Seksualiteit is nie ’n uitsluitlik private aangeleentheid nie; dit het gevolge vir die heelheid binne-in mense sowel as tussen mense, vir families, die samelewing en ons verhouding met God. In die geskiedenis het die kerk* seksualiteit goedgekeur binne die raamwerk van moraliteit, en telkens geworstel met die uit­da­gings wat veranderende sosiale omstan­dighede gestel het.

Die boodskap van die Ou Testament* sluit in die skepping van die mens en sy/haar seksualiteit deur God (Gen 1–3); ri­tuele reinheid (Lev 15; 18; Deut 22:13-30); geestelike en seksuele trou (Jes 1:21; Jer 3:6; Hos 2) en die vreugde van erotiese liefde (Hooglied). In die Nuwe Testament* leer Jesus* dat seksuele moraliteit gedagtes, bedoelings én dade insluit (Matt 5:8, 27-28; 15:1-20). Paulus* vereis reinheid en getrou­heid, en keur dit goed dat gelowiges trou sowel as dat hulle selibaat* bly (Gal 5:16-26; 1 Kor 7:1-40).

Binne die veld van seksuele etiek is daar onder meer die volgende hoofterreine:

Enkel-wees: Alle mense ervaar ten min­- s­te aanvanklik hoe dit is om alleenlopend te wees. Kulturele voorkeure mag wel wissel, maar die Bybel* keur sowel getroud-wees as enkel-wees goed (1 Kor 7:32-35; Ef 5:21-33; 1 Tim 3:4-5, 12).

Die huwelik*, egskeiding*, hertrou: ’n Huwelik kan omskryf word as ’n verhou­ding wat daarop gemik is om liefde*, emosionele en seksuele intiemheid, omgee, heling en groei te voed in ’n eksklusiewe en permanente verhouding. Die algemeenste vorme is monogamie (een man en een vrou) en poligamie (gewoonlik een man en verskeie vrouens), alhoewel laasgenoemde in die Nuwe Testement teengespreek is (1 Tim 3:2) en nog gedebatteer word. Die kerk verwelkom nie egskeiding nie, maar kan dit onder sekere omstandighede toelaat, soos by onsedelikheid (dikwels egbreuk*) en mishandeling. Sleutel­tekste sluit in: Mal 2:10-16; Matt 5:32; 19:3-12; Luk 16:18; Mark 10:10-12; 1 Kor 7:1-40.

Homoseksualiteit*: Sommige Christene aanvaar homoseksualiteit óf voorwaardelik óf volkome, terwyl ander meen dat dit teen die Christelike geloof en lewe indruis. Van die Bybeltekste wat die meeste hieroor aangehaal word, is: Gen 19:1-29; Rigt 19:22-23; Lev 18:22; 21:13; Rom 1:26-27; 1 Kor 6:9-10. Die vraag word gestel of ons vandag kan volstaan met slegs ’n beroep op Bybeltekste wat oënskynlik oor homoseksualiteit handel, en of ander Skrifgedeeltes nie eweneens, of selfs duideliker, morele oriëntasie oor hierdie saak bied nie.

Verkragting en mishandeling: Mishan­deling kan omskryf word as liggaamlike, verbale en/of emosionele aanranding in huishoudelike konteks. Die slagoffers is meestal vroue en kinders. Mishandeling bots met wat die Bybel leer oor die huwelik en menseverhoudings (Ef 5:21-33; 1 Pet 3:7; 1 Kor 3:16-17; 6:19-20; 13) en met God se besondere besorgdheid oor die magteloses (bv Jes 1:16-17; Luk 4:18-20). (Kyk ook by: Verkragting.)

Ouerskap teenoor kindermishandeling: Ouerskap is ’n proses waarin albei ouers daarna streef om in die kind se behoefte aan geestelike, persoonlike, liggaamlike en sosiale ontwikkeling te voorsien. Gebrek­kige ouerskap lei daartoe dat kinders verwaarloos word. Kindermis­han­deling is wanneer kinders emosioneel, liggaamlik of seksueel mishandel word, en sluit in die gebruik van kinders vir prosti­tusie* of pornografie*. Bloedskande is geslagsgemeenskap tussen naby familielede (Lev 18:6-17). Volwassenes is voor God aan­spreeklik om kinders te versorg, en Jesus veroordeel mense wat kinders leed aandoen (Matt 18:6; Mark 9:42; Luk 17:1-2).

Vir verdere lees: J Dominian en H Montefiore 1989. God, Sex and Love. Londen: SCM en Philadelphia: Trinity. S Grenz 1990. Sexual Ethics: A Biblical Perspective. Londen: Word.

 

Sidebar