ETIEK, SOSIALE

ETIEK, SOSIALE. Terwyl indiwiduele of personele etiek te maak het met die indiwiduele etiese beslissings, en die sosiale etiek meer met die beslissings ten opsigte van bo-indiwiduele samelewingsinstellings en -strukture, kan ’n skerp skeiding tussen die twee nie gehandhaaf word nie.

Van die Griekse filosofie* en die vroeg-Christelike teologie* af is daar deur al die eeue altyd aandag geskenk aan sosiaal-etie­se sake soos arbeid, eiendom, staat, politiek en ekonomie. Dit het egter bestaan in die soeke na norme* vir die indiwidu en as sodanig is dit op die sosiale terrein toege­pas. Die samelewingsinstellings of institute (maatskaplik, tegnologies, kultureel, polities, ekonomies) sélf is egter nooit krities bekyk nie. Dit is eerder beskou as noodsaaklike en onveranderlike uitdrukkings van God se wil soos dit in die natuurreg* uitdrukking vind. Die Lutherse* twee-ryke­leer het alle sosiale instellings, van die huwelik* tot die staat*, as wêreldlike instel­lings beskou waarvoor die Skrif* nie ge­raadpleeg hoef te word nie. Daarteenoor het Calvyn*, wat in alles slegs die Skrif as norm* wou sien, gehandhaaf dat ook alle sosiale instellings onder hierdie norm staan en nie eenvoudig net as deur-God-gewilde dinge aanvaar kan word nie. Maar ook die gereformeerde* tradisie sou op die glybaan van die indiwidualisme beland.

Tydens die Verligting* (Aufklärung*) het die mens homself/haarself tot heerser van die wêreld verklaar. Institute is nie Godde­lik nie, maar histories, mensgemaak, en mag verander word. Daarmee is die tydvak van rewolusies ingelei (staatkundig, industrieel, maatskaplik, seksueel, teologies). Hierin sou onder andere Karl Marx* ’n groot rol speel, veral met sy klem op die verbande tussen omstandighede en denke, en denke en handeling.

In die 20ste eeu sou faktore soos tegnologiese vordering, politieke omwentelings en bevryding, demokratisering en menseregte hierdie tendense versterk. Terwyl kerke altyd krities moet bly oor sommige aspekte van die huidige sosiale etiek, sal hulle egter hulle roeping oor hierdie lewe en hierdie aarde ernstig moet opneem. Die kwaad setel inderdaad nie net in die hart van die indiwidu nie, maar kan ook gestalte vind in strukture en instellings van die staat en samelewing. Die Christelike teologie* het daarom die belangrike profetiese taak om die lig van God se Woord* ook te laat val op al die maatskaplike, politieke, ekonomiese en ander strukture in die land, terwyl die kerke self al meer gedwing word tot sosiale betrokkenheid.

Vir verdere lees: EM Conradie 2006. Waar op dees aarde vind mens God? Op soek na ’n aarde spiritualiteit. Wellington: Lux Verbi.BM.

Sidebar