ETIEK VAN CHRISTELIKE LIEFDE

ETIEK VAN CHRISTELIKE LIEFDE is die benaming vir etiese modelle waarin die liefde* as die hoofsaak van God se wil be­klemtoon word.

Die Sweeds-Lutheraanse teoloog, Anders Nygren, het met sy klassieke werk, Agape and Eros (1953), grondslagwerk vir die eiesoortige Christelike verstaan van liefde* gedoen. Hy het skerp onderskei tussen die Griekse* en Bybelse* opvattings oor die liefde en getoon dat die vrye en genadige liefde van God die grondslag van Christelike moraliteit (Kyk by: Moraal) vorm. Sy onderskeid dat dit in die eros-liefde oor die waarde van die ander gaan, maar glad nie in die agape-liefde nie, het kritiek ontlok.

Die Switserse teoloog, Emil Brunner*, is ’n bekende verteenwoordiger van hierdie rigting, hoewel hy ook by die Etiek van Transendensie* tuishoort. Volgens Brunner is liefde in die hart van die mens geskryf omdat die mens deur God se Woord* geskep is en liefde die inhoud daarvan is. Die sonde* bring mee dat God se wil deur ’n wet* na ons kom. Die wet vervang dus die direkte gemeenskap van liefde wat daar tussen God en mens was. Al dra ons die liefdesvoorskrif, weet ons nie wat liefde werklik is nie. In ooreenstemming met Cal­vyn* meen hy dat God se liefdeswil nooit in een gesigspunt uitgedruk word nie, maar as “Gesetz” (wet) en “Gebot” (gebod). “Wet” is die abstrakte etiese reël wat algemeen kenbaar is en op situasies toegepas kan word. “Gebod” is die konkrete eis van God vir ’n bepaalde situasie. Die mens ken vanself God se wet, maar nie as gebod nie. Daarvoor is ’n mens van die Heilige Gees* se direkte openbaring afhanklik. Hoewel Brunner die wet as noodsaaklik beskou om by die gebod van liefde in ’n bepaalde situasie uit te kom, word alles saamgetrek in die een liefdesgebod. (Sien ook: Liefdes­gebod en Situasieetiek.)

Vir verdere lees: Emil Brunner 1937. The Divine Imperative. Philadelphia: Westmi­n­ster. JA Heyns 1982. Teologiese Etiek. Pretoria: NGKB.

Sidebar