ETIEK VAN DISSIPELSKAP

ETIEK VAN DISSIPELSKAP. Die gedagte van dissipelskap* vorm ’n sentrale deel van die Christelike denke oor die morele (Kyk by: Moraal) lewe. Die moreel goeie word gedefi­nieer in terme van dissipelskap, oftewel die navolging van Jesus* Christus*. Navolging is méér as ’n nabootsing van Christus. Dietrich Bonhoeffer* het van die belangrikste werk oor dissipelskap geskryf. Sy denke oor dissipelskap is veral verwoord in sy be­kende boek, Wat dissipelskap kos (The Cost of Discipleship). Die navolging van Christus is ’n saak van genade*. Om Christus se dissipel* te wees, om aan Hom verbonde te wees, is genade. Dissipelskap is egter ook iets wat ’n offer vra. Dit is duur, skryf Bonhoeffer. Die etiek van navolging rus dus in die duur genade van God wat ons roep tot die lewe van die navolging van Christus. Die navolging van Christus kulmineer in konformasie aan Christus. Mense word omvorm sodat hulle aan Christus se beeld gelykvormig word. Nie net die karakter van mense word gelykvormig aan Christus nie, maar ook hulle keuses en gedrag, sowel as hulle visie van wat die goeie samelewing is. Die etiek van dissipelskap behels dat ons onverdeelde gehoorsaamheid aan Christus betoon. Hierdie gehoorsaamheid rus in totale oorgawe aan en vertroue op Christus. Dit is iets anders as die nastreef van edele ideale wat die potensiaal van eiegereg­tigheid het.

Sidebar