ETIEK VAN TRANSENDENSIE

ETIEK VAN TRANSENDENSIE is die benaming vir etiese modelle waarin die totale andersheid van God, sy ingrype van buite (transendent van) ons sigbare werklikheid en sy openbaring aan ons, beklemtoon word. Dit is gebore uit die verset teen die 19de-eeuse liberale teologie* wat die Christelike geloof in bloot menslike en sosiale terme verstaan het. Hierdie etiek gryp terug op die leringe van die Bybel* en oortuigings van die Protestantse Her­vorming* en word daarom ook die Etiek van die Neo-ortodoksie genoem.

Karl Barth* (1886–1968) is die bekendste verteenwoordiger van hierdie rigting. God, as die gans andere, openbaar Hom deur sy Woord* aan die mens. Hierdie een “Woord” het net een boodskap, naamlik genade*. Jesus Christus* is die konkrete uitdrukking van God se genade. Wanneer hierdie genade aan die mens verkondig word, kom dit as ’n bevel en as ’n gawe. Die wet* is dus vir Barth ’n vorm van die evangelie*. Die evangelie in sy wetsvorm eis van ons geloof* in Christus. Wie aanvaar dat Christus plaasvervangend die wet namens ons vervul het, gehoorsaam en vervul die eise van die wet. Christus is die heiligende God én die geheiligde mens. Ons regverdiging* voor God én ons heiligmaking* is in Christus. Sonde* is juis dat ons self die wet, buite Christus om, wil vervul en ons eie geregtigheid* wil bewerk. Anders as by die Lutherane (Kyk by: Lutheranisme) is die wet by Barth nié ’n heils­weg na Christus toe – wat ons oortuig dat ons nie onsself kan verlos nie en ons daarom bereid maak om Christus se ver­dienste te aanvaar – nie. Anders as by die meeste van Calvyn* se navolgers, is die wet ook nié ’n heiligingsweg nie, want Christus alleen is ons heiliging. Volgens Barth het God Hom eksklusief in Jesus Christus geopenbaar en daarom is Christus die enigste kenbron vir morele gedrag.

Vir verdere lees: Karl Barth 1961. Church Dogmatics. Geredigeer deur GW Bromiley en TF Torrance. Edinburgh: T&T Clark.

 

Sidebar