ETIEK VAN VERANTWOORDELIK­HEID

ETIEK VAN VERANTWOORDELIK­HEID. Die term “etiek van verantwoordelikheid” is vir die eerste keer deur Max Weber gebruik. In ’n toespraak oor die politiek as beroep (in 1919) kontrasteer hy die etiek van verantwoordelikheid met ’n etiek van oortuiging. Waar laasgenoemde etiek morele oortuigings op ’n abstrakte manier in die politiek toepas sonder om die gevolge enigsins in ag te neem, maak die verantwoordelikheidsetiek erns met die eie en ingewikkelde aard van die politiek en die moontlike gevolge van ’n bepaalde optrede. Dietrich Bonhoeffer* het tydens die Tweede Wêreldoorlog* ’n Christelike verantwoordelikheidsetiek ontwikkel waar­in hy – soos Weber – die verantwoordelikheid van die indiwidu om in konkrete situasies die moed aan die dag te lê om moeilike etiese besluite te neem, beklemtoon. Hy het uiteindelik met sy eie lewe geboet deurdat hy dit as sy “spesiale verantwoordelikheid” beskou het om deel te neem aan die beplanning van die aanslag op Hitler* se lewe.

Richard Niebuhr* en Emmanuel Levinas het in die 1960’s en 1970’s elkeen hulle eie etiek van verantwoordelikheid ontwikkel toe hulle die antwoordkarakter van die etiek beklemtoon het. Niebuhr het ge­oordeel dat die Christen* in situasies van morele besluitneming na die mees gepaste optrede in antwoord op wat God in dié situasies doen, moet soek. Levinas het moraliteit probeer begrond in die morele appèl wat die gelaat van die medemens op ’n mens uitoefen. (Kyk by: Moraal.)

Die Joodse filosoof Hans Jonas het in die 1970’s die standpunt verdedig dat be­staande etiek nie in staat is om die bedrei­ging wat die moderne tegnologie vir die mensdom inhou, te hanteer nie. (Kyk by: Etiek van die tegniek.) Hy stel ’n nuwe etiek voor wat op die beginsel van prospektiewe verantwoordelikheid vir die toekoms gebaseer is. In navolging van Jonas het ’n aantal teoloë, waaronder Wolfgang Huber, Johannes Fischer, Ulrich Körtner en William Schweiker, elkeen hulle eie weergawe van ’n Christelike verantwoordelikheidsetiek ontwikkel.

Weber se verantwoordeliksheidetiek kan ook vandag dien as model vir ’n benadering in die etiek: as teenvoeter vir ernstige hedendaagse bedreiginge van die etiese dimensie, maar ook op so ’n manier dat onomkeerbare ontwikkelinge – so eie aan die moderne tyd – volledig verdiskonteer word.

In die ontwikkeling van so ’n eietydse verantwoordelikheidsetiek behoort die twee fokuspunte van Weber se benadering behou te word, naamlik: Die verantwoordelike omgaan met waardes* in die lig van hedendaagse omstandighede, en die verantwoordelike neem van etiese besluite.

Vir verdere lees: W Schweiker 1995. Responsibility and Christian Ethics. Cambridge: University Press. Kerkbode, 18 Januarie 2013: “Max Weber se verantwoordelikheidsetiek: Toepaslik in ons tyd?” deur Etienne de Villiers.

 

Sidebar