ETIEK, VREDES

ETIEK, VREDES-. In die Bybel* word vrede* (shalom, eiréne) beskryf as ’n toe­stand van geluk, harmonie, goeie verhou­dings en welsyn, sowel op spirituele as mate­riële gebied; dit gaan oor sielevrede, goeie intermenslike verhoudings en ’n herstelde verhouding tussen mens en God – ten diepste soos dit in die lewe en werk van Jesus Christus* gerealiseer het. Vrede hang ook ten nouste saam met geregtigheid*, waarsonder daar van geen vrede sprake kan wees nie.

Vrede word ook voorgehou as ’n geskenk (gawe) van die Here aan die mens sowel as ’n opdrag (opgawe) waaraan hy/sy moet werk. Die kerk* word gesien as die eintlike vredesinstrument en -instituut van God op aarde, ’n voorteken van die volle vrede wat eenmaal in die eskatologiese* volheid van die tyd verwerklik word.

Wat aan die vredesetiek ’n besondere di­na­miek in die 20ste eeu verleen het, is die ontwikkeling van wapens van massavernie­tiging, soos bv kern-, biologiese, chemiese en geofisiese wapens. Sedert die 20ste eeu leef daar vir die eerste keer in die wêreldgeskiedenis ’n geslag mense wat oor die vermoë beskik om alle lewe op aarde te vernietig. Al hierdie nuwe ontwikkelings het (aspekte van) die teorie van ’n regverdige oorlog* (bellum justum) onder groot druk geplaas, want wat is die waarde van middele (totale wapens) wat sy eie doel vernietig, waar beide partye mekaar (kan) vernietig en daar geen oorwinnaars meer kan wees nie? Kernwapens eerbiedig ook geen geografiese grense nie (neutrale lande word ook getref) asook geen tydgrense nie (ook die nageslag bly nie ongeskonde nie). Hierdie moontlikhede het Albert Einstein* laat opmerk dat, as die derde wêreldoorlog met kernwapens gevoer sou word, dan sal die vierde met knopkieries geveg word.

Nuwe werklikhede soos die Koue Oorlog van die vorige eeu, die wapenwedloop van groot moondhede, asook nuwe vorms van grootskaalse terreur, het nuwe nadenke oor oorlog en vrede, oor pasifisme* en militarisme (en terrorisme) gestimuleer en aanleiding gegee tot die ontstaan van nuwe wetenskappe soos vredeswetenskap (ireno­lo­gie) naas oorlogswetenskap (polemologie) – meesal as onderdeel van politieke etiek*. Al hoe meer word aanvaar dat diplomatieke en politieke oplossings verkieslik is bo militêre oplossings.

Hierdie nuwe werklikheid van ’n wêreldsamelewing wat in ’n grenssituasie verkeer, aksentueer opnuut die voor-beeld-ige be­staan van die kerk* as God se vredesinsti­tuut op aarde, van die kerk as boodskapper van die “evangelie van vrede” (Ef 2:17; 6:15).

Vir verdere lees: JH van Wyk 1984. Etiek van vrede: ’n Teologies-etiese evaluering van die Christenpasifisme. Stellenbosch: Cabo.

Sidebar