ETIESE IDEALISME

ETIESE IDEALISME is ’n familie van etiese teorieë wat almal die een of ander morele ideaal stel wat in die alledaagse lewe nagestreef moet word, en met verwy­sing waarna die alledaagse praktyk be­oordeel, en, indien nodig, aangepas of getransformeer moet word. Afhangende van die inhoud wat gegee word aan die morele ideaal, kan etiese idealisme ’n radikaal-transformatoriese agenda in die samelewing ondersteun. Die ideale staat wat Plato* in sy Republiek beskryf het, en Kant* se ideaal van ’n kosmopolitiese wê­reld, is voorbeelde hiervan. So ook Hegel* se idee van ’n volkome rasionele samele­wing, en Marx* se utopie van ’n klasselose maatskappy. Die Christelike leer van die koninkryk* van God wat op aarde gestalte moet vind deur die getuienis* en handelinge van Christene*, verteenwoordig ewe-eens ’n radikaal-transformatoriese mo­rele ideaal. Etiese idealisme loop egter die gevaar om te ontaard in ’n tirannie van abstrakte idees. Dit gebeur wanneer ’n morele ideaal so verabsoluteer word dat dit die karakter van ’n ideologie* aanneem wat met mag en indoktrinasie afgedwing word, soos wat bv gebeur het onder apartheid* en in kommunistiese* state. Een manier om aan hierdie tirannie te ontkom, is om morele ideale as die dryfkrag in ’n proses te sien, en nie as ’n finale einddoel nie. (Kyk ook by: Moraal.)

Vir verdere lees: R Preston 1991. “Christian ethics” in: Peter Singer (red), A Companion to Ethics. Oxford: Blackwell Publishers.

Sidebar