ETIESE NATURALISME

ETIESE NATURALISME is ’n familie van etiese teorieë wat aanvaar dat mora­liteit (Kyk by: Moraal) kennis oor die werklikheid weergee, dat morele oordele proposisies is wat waar of vals kan wees, en gevolglik dat alle morele kwaliteite soos “reg” of “goed” verder ontleed kan word in terme van spesifieke eienskappe of feite. Morele oordele het hiervolgens ’n feitelike basis, en beskryf daarom dit wat in feite “reg” of “goed” is, in onderskeiding van dit wat in feite “verkeerd” of “sleg” is. Vir hedonistiese (Kyk by: Hedonisme) natura­liste is die goeie te vind in plesier. Die goedheid van bv vriendskap is vir hulle geleë in die plesier wat dit verskaf. Aristoteliaanse naturaliste verbind die goeie aan feite oor die menslike natuur en wat ons as mense laat floreer. Die goedheid van vriendskap is vir hulle geleë in die manier waarop dit resoneer met die menslike na­tuur. Teologiese naturaliste aanvaar dat iets soos vriendskap goed is omdat dit gesanksioneer word deur die wil van God. Die grootste punt van kritiek teen etiese naturalisme is dat dit in al sy vorms, na bewe­ring, die naturalistiese denkfout pleeg. Die naturalistiese denkfout word gemaak wanneer morele oordele afgelei word van feite. Volgens logika kan ’n “behoort”-uitspraak nie afgelei word van ’n “is”-uitspraak nie.

Vir verdere lees: CR Pigden 1991. “Natu­ralism” in: Peter Singer (red), A Companion to Ethics. Oxford: Blackwell Publishers.

 

Sidebar