ETIESE REALISME

ETIESE REALISME is die opvatting dat dit moontlik is om oor morele feite te kan redeneer, en die morele redes vir ons gedrag aan rasionele kritiek te onderwerp. (Kyk by: Moraal.) Etiese realisme staan of val by die oortui­gingskrag waarmee dit kan aantoon wat ’n morele feit is en wat nie. Een interpretasie handhaaf dat morele feite gaan oor dit waar­voor ons goeie redes het om te doen of nie te doen nie. ’n Ander interpretasie hand­haaf dat morele feite dit behels wat sosiale stabiliteit bevorder of ondermyn. In albei weergawes word probeer om te voldoen aan die praktiese behoefte om ’n verduideliking (in terme van ’n objektiewe verwysingspunt wat onderling tussen mense bespreek kan word) te kan aanvoer vir die morele oordeel wat uitgespreek word. Morele realisme neem aan dat goed-geïnformeerde en weldeurdagte etiese redene­ring wat kalm en rustig uitgevoer word, aanleiding sal gee tot groter onderlinge ooreenstemming tussen mense oor morele kwessies. Dit bly egter ’n vraag of morele redenering altyd in sulke ideale omstandig­hede plaasvind, en of die moontlikheid nie steeds bestaan dat die een of ander irrasionele faktor in morele redenering kan voorkom wat aan geen rasionele kritiek onderwerp kan word nie.

Vir verdere lees: G Sayre-McCord 1988. Essays on Moral Realism. New York: Cornell University Press. M Smith 1991. “Realism” in: Peter Singer (red), A Companion to Ethics. Oxford: Blackwell Publishers.

Sidebar