ETNOSENTRISME

ETNOSENTRISME. Ethnos is die Griek­se woord vir “volk” en etnosentrisme bete­ken daarom letterlik om die eie volk te verhef tot die middelpunt van alles. Hierdie patroon van optrede behels ’n lewenshou­ding wat die waardes, gewoontes, gebruike, opvattings en instellings van die eie volk of etniese groep vooropstel as die normatiewe maatstaf waaraan ander kulture* gemeet word. Dit berus op die oortuiging dat eienskappe van die eie kulturele groep wat as besonder belangrik beskou word, inherent meer waardevol is as dié van ander groepe. Wanneer een van hierdie eienskappe ras is, neem etnosentrisme die meer ekstreme vorm van rassisme* aan. Etnosentrisme en rassisme kom van die vroegste tye af in alle samelewings voor. Die vorm van (uitgesproke of onwetende) vooroordeel wat die Westerse kultuur en beskawing hoër ag as ander, staan bekend as Eurosentrisme en in die naam daarvan het Westerse moondhede dit nie net as hulle reg nie, maar selfs as hulle roeping beskou om dele van die wêreld en hulle inheemse volke te kolo­niseer. Afrosentrisme (waarin die eie waar­de van Afrika-kulture teenoor die Westerse kultuur beklemtoon word) en Oriëntalisme (waarin die eie waarde van Arabiese kultuur en Islam* beklemtoon word), is téénreaksies teen Eurosentrisme. Die teendeel van etnosentrisme is die beskouing dat alle kulture gelykwaardig is. Dit staan as kulturele relatiwisme bekend en het veral deur die ontwikkeling van die sosiale antropologie in die 20ste eeu baie veld gewen.

 

Sidebar