EUSEBIUS VAN SESAREA

EUSEBIUS VAN SESAREA (275–339) word dikwels “die vader van kerkgeskiedenis*” genoem vanweë sy moeite om die geskiedenis van die Vroeë Kerk* op te teken. Die geskiedwerk van Hegesippus*, waarna hy dikwels verwys, het nie behoue gebly nie. Eusebius het ’n prominente rol tydens die Konsilie van Nisea* in 325 gespeel. Hy het waarskynlik die konsep-bewoording voorgestel wat uiteindelik die Geloofsbelydenis van Nisea* geword het (hoewel dit nie by die konsilie van Nisea formeel aanvaar is nie – dit het by ’n latere konsilie, dié van Konstantinopel, gebeur).

In sy tiendelige Kerkgeskiedenis was sy uitgangspunt die opvolging van biskoppe in die vernaamste sentra, die geskiedenis van die leermeesters, die geskiedenis van die ketterye, die geskiedenis van die Jode*, die verhouding met die heidene* en die rol van die martelaars*. Die tien boeke is soos volg ingedeel: 1. ’n Inleiding in besonderhede oor Jesus Christus*. 2. Die geskiedenis van die tyd van die apostels tot by die verwoesting van Jerusalem* deur Titus. 3. Die tydperk tot en met Trajanus. 4 en 5. Die tweede eeu. 6. Die tydperk van Severus tot by Desius. 7. Die tydperk totdat die vervolging onder Diokletianus uitgebreek het. 8. Die geskiedenis van die vervolging. 9. Die geskiedenis tot en met die oorwinning van Konstantyn*. 10. Die vestiging van die kerk* as staatskerk. (Kyk ook: Julius van Afrika.)

 

Sidebar