EUTIGES

EUTIGES (circa 378–454) was die hoof van ’n groot klooster* in Konstantinopel*, en ’n vroeë monofisiet (Kyk by: Monofisitisme). As monofisiet het Eutiges geleer dat Chris­tus* ná sy menswording net een natuur gehad het, en dat Hy nie op dieselfde vlak as ons mens was nie. Eutiges was ’n groot teenstander van Nestorius* wat geleer het dat Christus twee nature, ’n menslike en ’n Goddelike, gehad het.

Ná die Derde Ekumeniese Sinode van Efese (430) het Kurillos* van Aleksandrië probeer om dié wat Christus se twee nature en dié wat sy een natuur geleer het, met mekaar te versoen. Eutiges het gevoel dat dié kompromie die Nestoriane bevoordeel het. Ná die dood van Kurillos in 444 het Eutiges sterk na vore getree om die een-natuur-leer (monofisitisme) te bevorder. Hiervoor is hy deur Flavianus*, die aartsbiskop* van Konstantinopel, op ’n sinode veroordeel. Eutiges het dadelik na pous* Leo geappelleer, wat hom in ere herstel het ná die sogenaamde “rower-sinode” in Efese in 449. Die pous sterf egter in die volgende jaar (450) en nog ’n jaar later veroordeel en verban die Vierde Ekumeniese Sinode van Chalcedon vir Eutiges.

Dis moeilik om presies vas te stel wat Eutiges geleer het, omdat hy waarskynlik sy standpunt onder druk verander het. (Kyk ook: Flavianus.)

Sidebar