EVA

EVA is die naam van twee vroue – een uit die allervroegste tye van die Bybel* en die ander uit die vroeë Suid-Afrikaanse ge­skie­denis.

  1. ‑Krotoa, deur die koloniste Eva genoem, was ’n Khoekhoen*-meisie. Sy het diensmeisie van Maria van Riebeeck*, die vrou van die eerste Nederlandse kommandeur aan die Kaap (1652), geword. Sy het Nederlands gou aangeleer, en is daarom ook dikwels as tolk gebruik. Mettertyd het sy geïnteresseerd geraak in die Christelike geloof*, en is in 1662 gedoop* (as Eva) en as lidmaat bevestig – die eerste inheemse bekeerling in Suid-Afrika. Sy is later getroud met die Deense chirurgyn, Pieter van Meerhof, en uit dié gelukkige huwelik is ’n paar kinders gebore. Sy is in 1674 op Robbeneiland*, waar haar man haar vroeër ontval het, oorlede. Eva se posisie was uiters inge­wikkeld omdat sy gestaan het tussen die twee wêrelde van haar Khoekhoen-afkoms en die Christelik-Westerse beska­wing. Nie alleen was van haar verwag om tussen die twee tale te tolk nie, maar sy moes ook as boodskapper bemiddel tussen dié wêrelde. Sy het gesien hoe haar mense hulle vroeëre vryheid verloor, maar sy kon ook nie ontken dat die nuwe beskawing sy voordele gebring het nie. Hierdie innerlike ver­skeurdheid, en die groot druk van twee kante, het haar uiteindelik ook ’n slagoffer van alkohol laat word.

‑   Vir verdere lees: D Sleigh 2001. Eilande (roman). Kaapstad: Tafelberg.

JJ Kritzinger

Sidebar