EVA

EVA is die naam van twee vroue – een uit die allervroegste tye van die Bybel* en die ander uit die vroeë Suid-Afrikaanse ge­skie­denis.

  1. ‑Die eerste Eva is die vrou wat God vir Adam* gemaak het in die tuin van Eden* (Gen 2:20-25). Eva word in die paradys­verhaal “die vrou” ge­noem. Ná die ver­dry­wing uit die tuin word sy Eva ge­noem, wat beteken “ma van die lewendes” (Gen 3:20). God het Adam in diep slaap laat val, en die vrou uit sy ribbebeen gevorm. Adam reageer opgewonde: God het vir hom iemand gemaak soos hy, omdat God gesien het dat die mens nie ’n helper of gelyke het nie. Die vrou het na die woorde van die slang* geluister en besluit om te eet van die boom van alle kennis* waarvan God hulle verbied het om te eet. Saam met die man en die slang word sy gestraf (Gen 3:16). Haar straf was dat sy met moeite kinders in die wêreld sou bring en na haar man sou hunker, wat oor haar sou heers. Genesis* beeld dus nie die heerskappy van die man oor die vrou uit as ’n skep­ping*gegewe nie, maar as ’n gevolg van die sonde*. Die Christelike interpretasie­geskiedenis was baie negatief teenoor Eva, en het haar blameer vir die sondeval en gesien as die instrument van Satan*. Die vrou se seksualiteit* is gevolglik ge­sien as gevaarlik, want die eerste sonde is ten onregte met seksuele verleiding verbind. Die teks beeld die sonde uit as opstand teen God se gesag. In die Nuwe Testament* word Eva voorgehou as die een wat verlei is (1 Tim 2:13-15; 2 Kor 11:3). Die gevolg van sulke interpretasies kan gesien word in die minderwaardige posisie wat deur die eeue aan vroue gegee is.
Sidebar