EVANGELIE

EVANGELIE beteken “goeie nuus” en verwys na die goeie nuus van God se verlos­sing in Jesus* Christus*. Die gebruik van “evangelie” in die Nuwe Testament* het drie stadiums deurloop: die verkondigings­handeling self (Matt 11:5), die verkondiging se inhoud (1 Kor 15:1 en volgende verse), en ’n boekbenaming (Mark 1:1). Laasge­noem­de betekenis kom veral na vore in die 2de eeu nC wanneer “evangelie” in die meervoud gebruik word, ’n besliste aanduiding dat die Evangelieboeke bedoel word.

Wat is ’n Evangelie(-boek)? Daar is breedweg twee standpunte: diegene wat sê dat dit ’n unieke literatuursoort is wat in die Vroeë Kerk* ontstaan het. Hiervolgens skep die kerk uit konkrete lewensituasies kort verhaalmatige interpretasies rondom Jesus. Hierdie interpretasies groei dan spontaan tot die Evangelies. Hoewel dit waarheidselemente bevat, wen die ander siening dat die Evangelies aansluit by literêre voorbeelde in die antieke tyd, die meeste veld – veral die standpunt dat die Evangelies ’n soort heldebiografie is waar ’n heldefiguur en sy betekenis in die sentrum staan.

Alles in ag genome, is die Evangelies verkondigende geskiedvertellings. Enersyds wil hulle verkondig, preek dat Jesus Christus die Seun van God is. Andersyds is die verkondiging verweef met die historiese kernmomente van Jesus se lewe, sonder dat alles vertel of ’n presiese historiese weergawe van sy lewe gegee word. Hulle is verhale*, met al die elemente van ’n verhaal teenwoordig, soos ’n hoofkarakter, ’n bepaalde milieu en ’n verhaalplot – alles weergegee uit ’n bepaalde skrywersperspektief.

Hoe het die Evangelies ontstaan? Die op­stan­ding* van Jesus was die beslissende stimulus in die ontstaan van die vertellings oor Jesus. Hierna volg ’n stadium waarin kernmomente van die Jesusverhaal mondeling (Kyk by: Bybel: Mondelinge oordrag) oorvertel is. Verskillende verhaalkomplekse het geleidelik vaste vorms begin aanneem. Die derde stadium volg toe die evangeliste (skrywers van die Evange­lies) die mondelinge evangelievorms in ge­skrewe verhale gegiet het, elk met ’n unieke perspektief op Jesus.

Sidebar