EVANGELIKALE BEWEGING (TEOLOGIESE KENMERKE)

EVANGELIKALE BEWEGING (TEOLOGIESE KENMERKE). Die term euangelion (evangelie, goeie nuus) is met en na die Kerkhervorming* gebruik om Protestante* te identifiseer, in die besonder hulle oortuiging oor die regverdigmaking* uit genade* deur geloof* alleen, en die finale gesag van die Skrif*. Mettertyd het hierdie betekenis vernou sodat “evangelikale” (“evangelicals”) vandag verwys na ’n wisselvorm van Protestantse spiritualiteit* waar regverdigmaking en Skrifgesag op ’n geïntensifiseerde manier beleef en verkondig word: aan die een kant in ’n oproep tot persoonlike bekering* en ’n hoë morele (Kyk by: Moraal) leefstyl, en aan die ander kant in ’n daaglikse toe-eiening van die Bybel* as riglyn vir oortuiging en gedrag, en daarmee saam ’n passie vir die verkondiging van die geloof (vandaar: “evangelisasie”). Hierdie intensifering en internalisering van geloof blyk ook uit die meer populêre selfbeskrywing: om ’n “wedergebore*” Christen te wees.
Binne die evangelikale beweging is daar verskeie teologiese onderstromings:
1. Fundamentalistiese evangelikale is ti¬pies separatisties en militant en hou onwrikbaar vas aan die leerstelling van Bybelse onfeilbaarheid, veral wat betref Bybelse getuienisse oor die natuur en geskiedenis. In die 20ste eeu het dit van die VSA af na Suid-Afrika oorgespoel, veral in die vorm van televisie-predikers en kreasionistiese (’n baie letterlike verstaan van die skepping in sewe dae) opvattings oor die skeppingsverhale. (Kyk ook by: Kreasionisme en Skepping.)
2. Ou evangelikale lê hulle toe op ’n lewe van persoonlike vroomheid met klem op die bekeringservaring en ’n oproep daartoe in óf massa-evangelisasie óf persoonlike getuienis; verder in ’n streng handhawing van persoonlike moraliteit en gedissiplineerde Bybelstudie. Die persoon wat hierdie tipe vroomheid deurslaggewend in Suid-Afrika gevestig het, was Andrew Murray* (1828–1917), onder wie se direkte of indirekte invloed verskeie evangelikale tendense ontwikkel het en instellings ge¬vestig is, onder andere Pinksterbidure*, die Afrika-Evangeliese Bond* en die Christen-Studentevereniging*.
3. Nuwe evangelikale sluit aan by ou evangelikale, maar voeg daarby ’n rasionele verdediging van hulle geloof in die lig van beskuldigings dat dit onwetenskaplik en onredelik is. Dr Louw Alberts* (1923–2013) is ’n bekende Suid-Afrikaanse eksponent hiervan.
4. Charismatiese evangelikale word ge¬ken aan hulle klem op die “doop met die Heilige Gees*” soos dit veral sigbaar word in die gawe van spreek in tale* of glosso¬lalie*, en verder in ’n ywerige lewe van gebed*, lofprysing* en persoonlike getuienis*. In Suid-Afrika het dit veral wortel geskiet in die oplewing van die pentekostalisme* en die charismatiese beweging* in die 20ste eeu, waarby die Apostoliese Geloofsending* ’n sentrale rol gespeel het. ’n Ander noemenswaardige voorbeeld is die Sioniste Kerk (ZCC)* wat sterk klem lê op geloofs¬heling en ’n heilige lewe.
Vir verdere lees: D Bloesch 1982. The Essentials of Evangelical Theology. San Francisco: Harper Collins.

Sidebar