EVOLUSIE

EVOLUSIE. Christene reageer op verskillende maniere as hulle van evolusie hoor. Sommige verwerp dit, ander laat dit aan hulle verbygaan omdat hulle meen dit lê heeltemal op ’n ander vlak as ons geloof* dat God alles geskep het, en ’n derde groep aan­vaar dit. Daar is egter verskillende evolusieteorieë, en ook verskillende velde waarna hierdie teorieë verwys. Wat die velde betref, is daar die ontstaan van alle dinge, die ontstaan van lewe, en die ont­wikkeling van lewe. Charles Darwin*, wat een van die bekendste evolusieteorieë ontwikkel het, het hom bepaal by die ontwikkeling van lewe. Die Groot Knal hou egter verband met die ontstaan van alle dinge.

Christene wat evolusie verwerp (soos die kreasioniste*), aanvaar wel dat sekere dinge kan ontwikkel, maar nie dat een ding uit ’n ander kan ontwikkel nie. Hulle meen God het alle soorte dinge (spesies) apart geskep. Christene wat koud gelaat word deur evolusie, meen dat natuurwetenskappe en geloof eenvoudig twee verskillende terreine dek wat niks met mekaar te doen het nie. Christene wat evolusie aanvaar, besluit watter teorieë ruimte laat vir hulle oortuiging dat God in eerste instansie alles geskep het. Enige evolusieteorie wat meen dat God nie by die ontstaan en ontwikkeling van alles betrokke is nie, oortree al klaar sy eie “wetenskaplike” terrein, omdat God se betrokkenheid nie deur waarneming en eksperimente ondersoek kan word nie. (Kyk ook: Evolusionisme.)

 

Sidebar