EVOLUSIONISME (DARWINISME)

EVOLUSIONISME (DARWINISME) is ’n teorie waarvolgens die heelal, lewe en die geskiedenis die resultaat is van geleidelike ontwikkeling eerder as van skepping*, ’n oorspronklike ontwerp of blote toeval. Die bekendste voorbeeld hiervan is Darwi­nis­me, genoem na die Britse natuurkundige Charles Darwin* (1809–1882).

Darwinisme is ’n teorie oor biologiese afstamming. Hiervolgens bestaan daar on­ge­lykheid van biologiese variante van plan­te en diere ten opsigte van hulle vermoë om met mekaar mee te ding in die stryd om oorlewing. Variante benodig uitmuntende eienskappe ten einde hulle oorle­wing te verseker. Dié variante wat nie goed vaar in die stryd nie, sal óf uitsterf, óf hulle beter aanpas. Sodoende word net die bes aangepaste variante deur natuurlike seleksie die geleentheid gebied om hulle eienskappe oor te dra. Natuurlike seleksie stuur die proses van evolusie*.

Gevorderde geennavorsing lei tot ’n gevorderde formulering van hierdie teorie, wat as neo-Darwinisme bekend staan.

Enige teorie buite biologie in bv politiek, sosiologie of antropologie, word Darwinisties genoem as dit die idee van evolusie deur natuurlike seleksie voor­staan, so bv sosiale of kulturele Darwinisme.

Darwinisme en evolusionisme is gekritiseer omdat dit 1. ’n bepaalde voorstelling van die skepping* sou weerspreek, en 2. dikwels ’n ongeregverdigde idee van evolusie as vooruitgang voorstaan.

  • Sosiale Darwinisme was voorheen gewild in pseudo-wetenskaplike teorieë oor ras en etnisiteit om die “natuurlike” verskille tussen mense aan te wys as teken van “ontwikkeldheid”. Dit kom nou weer voor in globalisa­siedebatte as sommige die ekonomiese ontwikkeling en ongelykhede tussen ryk en arm nasies met gebruikmaking van hierdie teorieë wil verklaar. Dit word egter deur die meeste sosiaal-wetenskaplikes en teoloë ver­werp.
  • Vir verdere lees: C Darwin (1858) 1987. On the Origin of Species. New York: Cambridge University Press.
Sidebar